ToekomsVenster: Wie is jou naaste?

(Foto: Mike Marrah/Unsplash)

Daar was ‘n wetgeleerde wat aan Jesus ‘n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” – Luk.10:25

In Lukas 10:25 en verder is ’n wetgeleerde weer besig om te kyk of hy Jesus met ʼn strikvraag kan uitvang. Hy wil weet wat hy moet doen om die ewige lewe te verkry.

Dat hy ernstig daarna op soek is, is sterk te betwyfel. In die parallelle gedeeltes in die Matteus en Markus Evangelie is die vraag, “wat is die belangrikste gebod” waaraan gehoor gegee moet word. Dit is essensieel dieselfde vraag. Wie die belangrikste gebod nakom, het tog die ewige lewe.

Die wetgeleerdes en rabbi’s het nie minder nie as 613 voorskrifte uit die eerste vyf boeke van Moses soos hulle dit geken het geformuleer. Onnodig om te sê dat daar aan elkeen van hierdie “moets” en “moenies” uitvoering gegee moet word.

Nie minder as 248 ‘moets’ en 365 ‘moenies’ is geformuleer. Dat dit enige regdenkende en ernstige Jood totaal en al moedeloos moes gemaak het, spreek vanself. Maak nie saak wat jy doen nie, jy is altyd in die moeilikheid.

Die “geleerdes” het daarvan interessante tydverdryf gemaak deur onderling te redeneer watter van hierdie verordeninge as die belangrikste uitstaan. Dit is die vraag waarmee die wetgeleerde na Jesus toe kom. Watter een van die gebooie is die belangrikste?

Jesus verwys hom na die Skrif van wie hy as wetsgeleerde ’n student is. “Wat staan in die Skrif, wat leer Moses in die verband?” wil Jesus by hom weet.

Interessant hoe Jesus en die wetgeleerdes heen en weer vrae stel. Wie nie vra nie, leer niks nie.

Die wetsgeleerde haal sonder aarseling twee gedeeltes in die Bybel aan, beide in die ou Testament.

In Deut. 6:5 word liefde vir God en dit met jou hele menswees onderstreep. In Lev. 18:19 gaan dit oor liefde vir die naaste waarvan selfliefde die onderbou is.

“Wees lief vir jou naaste soos vir jouself”.

Die wetsgeleerde is met hierdie inhoud goed bekend. Hy het egter ’n agenda en wil daarby uitkom. “Wie is my naaste?” wil hy van Jesus weet. Dan volg die wonderlike voorbeeld verhaal wat Jesus vertel en waarmee ons almal bekend is, die verhaal van die barmhartige Samaritaan.

Soos bekend was daar ’n voelbare antagonisme tussen die Jode en die Samaritane. In ’n briljante skuif openbaar Jesus die vooroordeel en selektiewe liefde van hierdie man.

Die Jode het die Samaritane verafsku en die blote gedagte dat iemand deur ’n Samaritaan aangeraak kan word, het ’n tipiese Jood laat ril.

Tog is dit hierdie Samaritaan wat die betekenis van die wet uitleef eerder as die wetgeleerde.

Die wetgeleerde moet op sy neus kyk as Jesus hom vra wie dan nou eintlik barmhartigheid bewys het?

Is daar ook mense teenoor wie jy jouself posisioneer, mense wat onbelangrik, selfs afskuwelik en minderwaardig is in jou oë?

Dit is inderdaad jou naaste.

Dit mag wel ook nog waar wees dat die einste ’n rolmodel is vir wie jy kan navolg.

Moenie dat meerderwaardigheid en agterdog en vooroordeel jou perspektiewe benewel nie.

Ons staan almal aan die ontvangkant van genade.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Yvonne

Here help my om so te leef dat ander U in my kan sien…..in Jesus Naam

Manie

My naaste is diegene vir wie ek my lewe sal gee.

Helizna

Vir my is dit interessant dat jou naaste die persoon is wat * jou * help as jy nood het, asook wat bereid is om die ekstra myl vir jou te loop, ongeag van jou vooroordele teenoor daardie een. Jou naaste kies vir jou!