ToekomsVenster: Wie is jy, wat sê jy van jouself?

(Foto: Sasha Freemind/Unsplash)

Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ – Matteus 22:37-39

Ons gesels vandeesweek oor die vreemde gedagte dat jy en jouself met mekaar op reis is en met mekaar op reis moet gaan.

Jouself is verteenwoordigend van essensie, die ware jy. Jy is die gepantserde, dikwels veglustige, verskonende, ontrekkende, ontkennende en stukkende mens.

Die bagasie is swaar maar dit is al wat jy ken. Jy kyk vir jouself in die spieël en jou wonder wie jy nou eintlik is?

Die reis na binne klink vreemd maar is noodsaaklik. Sien, die ander mense wat op jou pad kom, jou lewensmaat, vriend, kollega, medegelowige, selfs kind is op dieselfde trajek. Niemand van ons kom ongeskonde daarvan af nie.

Ongeag hoe ʼn merkwaardige ouer jy was of hoe beskermd jou ouers was, jy het meganismes ontwikkel om te oorleef.

Selfs ouers wat met goeie bedoelings oor beskermend was, kan problematies wees.

Tensy jy op hierdie reis gaan, leer om jouself te bevriend, jou eie beste vriend te wees, nie aan jouself te doen wat ander aan jou gedoen het nie, sal jy gevange bly.

Ons doen mos aan onsself wat ander aan ons gedoen het.

As ander ons geminag het, doen ons dit aan onsself.

As hulle ons verkleineer het, doen ons dit aan onsself.

Die antwoord lê nie in die ander se gewysigde optrede nie, hoe ideaal dit ook al mag wees nie. Niemand kan jou seermaak, verkleineer, skade berokken tensy jy dit toelaat nie. Jy kan ongeskonde van ʼn misdaadtoneel wegstap net omdat jy ontdek het wie jy is.

Wie is jy, wat sê jy van jouself, wat het jy vir jouself te sê?

Konflik is aan die orde van die dag. Ons samelewing word deur woede en konflik gekenmerk.

Mense verloor respek vir ander en vir die lewe. Ons objektiveer mekaar en baklei met mekaar.

Ons probeer ander verander om soos ons te wees. Ons idealiseer ons masker en dwing ander mense om so te wees.

Ons vorder nie, helaas, ons almal bly stukkend.

Nee, wanneer jy na jouself met empatie, liefde, begrip en aanvaarding kyk, wetende dat jy saam met God op weg is na die ideale self, kan jy ander ook so benader.

Dit het verrykende implikasies vir alle samelewingsverbande. Jou huwelik, jou gesin, jou vriendekring, jou kollegas en werkplek, jou geloofsgemeenskap, jou omgewing, jou medemens en Suid-Afrikaners. Dan kategoriseer ons mekaar nie meer soos ons gewoond is om te doen nie.

Dan sien ons mense, medemense, op weg mense raak.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.