ToekomsVenster: Wie is jy?

negatief

Foto: Freestocks/Pexels.com

Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. – Rom. 8:1

“Jy is ʼn sleg mens, jy verdien dit nie om ʼn kind van die Here te wees nie en behoort jou te skaam. Jy is ʼn teleurstelling en ʼn mislukking en vertrap die Here se genade. Selfs die Here kan jou nie meer vergewe nie. Jy is ʼn swakkeling en gaan dit nie maak nie.”

Leuens, leuens en nogmaals leuens wat aan ons opgedis word vanuit die koninkryk van die duisternis.

Ander kere sommer naby, jou eie hart. Jou selfspraak wat verdoemend negatief is.
“Daar is nie ʼn kans dat ek dit gaan maak nie en ek kan net sowel nou reeds handdoek ingooi.”

Soms is dit nie net die bose en jou innerlike stem wat jou van jou minderwaardigheid oortuig nie, maar ander mense. Mense wie se “roeping” dit oënskynlik is om jou van jou drome te beroof.

Wat gemaak met hierdie stroom negativisme wat na ʼn mens toe aankom?

Ek gesels onlangs met ʼn jong man wat disleksies is. Skooldae was ʼn uitmergeling. Sy onderwysers wat veronderstel was om te verstaan en te onderskei het hom verneder en verdoem. Die gevoel van verwerping was so oorweldigend dat hy in harmonie daarmee begin leef het. Hy het keuses gemaak wat dit wat ander van hom sê en wat hy begin glo het, bevestig. “Van jou sal daar niks kom nie.”

Ai, hoe ontstellend. Die man kon later jare sy onderwysers vergewe. Dit het egter baie geduld geverg om hom te oortuig dat hy ʼn waardige beelddraer van die lewende God is, boonop met hope potensiaal.

God maak nie “gemors” nie.

Hou op om dit te glo, te bely, na te praat en na te boots. Breek met die negatiewe en afbrekende getuienis oor jou.

Ek word vanoggend wakker en raak bewus van ʼn inskrywing op ons gemeente se Facebook-blad. Dit lui: “Jannie Pelser is arrogant en plaas hom tussen God en mense … ens.”

Ek lees die Bybel en probeer stil wees, maar sluit my moeilik daarvan af.

Jy het dit ook al beleef.

Dit kos inspanning om nie te ontspoor nie.

Moenie die leuen glo nie. Dis doodgewoon nie waar nie. Jy is meer as dit.

Gebed:

Ek behoort aan U en U ken my. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.