ToekomsVenster: Wie ken Sy gedagtes?

(Foto: Cristofer Jeschke/Unsplash)

My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes. – Jes. 55:8-9

Navorsing wil dit hê dat die mens ongeveer 6 200 gedagtes dink elke dag. Dit beteken 345 per uur en 5 tot 6 gedagtes elke minuut. Volgens navorsing is 80% van wat ons dink negatief en 95% herhalende gedagtes wat oor en oor voorkom.

Verder word gesê dat 85% van die goed waaroor ons so intens bekommerd is, nooit gebeur nie. Daar dit wat oorbly is 79% nie onhanteerbaar moeilik nie en kan ons gemaklik die uitdaging hanteer. Ja, mens leer selfs iets sinvol uit die ongemaklikheid.

Die slotsom: 97% van ons bekommernis onnodig en ongegronde pessimisme.

Sjoe, dit laat ’n mens dink, nie waar nie?

Ek hou van die voorstel van ’n gedagte oudit. Op ’n skaal van 1 tot 10 waar die lae syfers die negatiewe (uitdrukking van ongeloof dalk?) verteenwoordig en die hoër syfers die positiewe (uitdrukking van geloofsvertroue?). Waar sou jou gedagtes meestal voorkom?

Ons gaan in die week wat voorlê ’n bietjie saamkuier rondom gedagtes en wat die Woord van die Here daaroor leer. Daar is verrassend baie tekste wat met gedagtes verband hou. Sommige daarvan kan saamgroepeer word en dit is hoe ek graag hierdie week sal wil benader.

As ʼn mens vandag se teks lees is die eerste gewaarwording dat ons gedagtes en God se gedagtes nie altyd dieselfde is nie. Hy is soewerein en volkome in beheer. Hy konsulteer nie en vra nie ons raad nie. In die woorde van Romeine: “Wie ken die bedoelings (of gedagtes) van die Here en wie gee Hom raad?” (Lees Romeine 11:33-36)

Ek moet erken dat ek somtyds, dalk meermale, anders dink as God. Ek wil Hom graag raad gee en glo selfs dat dit goeie raad is.

Hy egter is op die troon, volkome in beheer en absoluut volmaak. Hy maak geen foute nie, hoef nooit op sy spoor terug te gaan nie en bied nie verskoning aan nie. Hy is God en ons is sy handewerk. Ons ken ons plek voor Hom en respekteer Hom vir wie Hy is en vir wat Hy doen.

Hoe voel jy daaroor dat God dikwels, dalk meestal anders dink as mense?

Ps. 92:6 – Groots is alles wat U doen, Here, ondeurgrondelik u gedagtes.

1 Kor. 2:16 – Daar staan geskrywe: “Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?” Maar ons, ons het die Gees van Christus.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Seerot ·

God moet maar maak soos Hy goeddink, ek sal daarby inval.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.