ToekomsVenster: Wie nie téén ons is nie, is vír ons

Berg_wolke_landskap_ReintDykema.jp

Foto: Reint Dykema

Johannes het toe vir Hom gesê: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam bose geeste uitdrywe. Ons het hom probeer keer, omdat hy ons nie volg nie.” “Moet hom nie keer nie,” sê Jesus, “want daar is niemand wat ʼn kragtige daad in my Naam sal doen en net daarna minagtend van My sal kan praat nie. 40Wie nie téén ons is nie, is vír ons. “Elkeen wat vir julle ʼn beker water te drinke sal gee omdat julle aan Christus behoort, hy sal beslis die beloning daarvoor kry. Dit verseker Ek julle.” – Markus 9:38-41

Is dit nie ironies dat ons altyd bedreig voel deur ander mense nie? Vir die dissipels is dit nog ʼn bitter pil dat hulle nie in staat was om die bose gees van nou die dag uit te dryf nie. Jesus het gesê dit is omdat hulle nie bid nie. Nou is daar wrintiewaar iemand wat Jesus se opdrag en mandaat uitvoer en dit regkry.

Die dissipels het hulself dalk ook as ʼn eksklusiewe groepie beleef. Net hulle is reg en het die reg om te doen wat Jesus vra. Immers, hulle is by die naam geroep, met die hand uitgesoek, het bykans drie jaar opleiding, het proefondervindelik gesien wie Jesus is, waarmee Hy Homself besig hou en wat Hy van hulle verwag. Ai, mense darem.

Iets hiervan kry ons in die onderlinge jaloesie wat onuitgesproke, ja, soms uitgesproke kritiek teen ander kerke, gemeentes, geloofsgemeenskappe en individue is.

“Hierdie mense het nie ons opleiding nie, doen vreemde dinge (of so hoor ons en ons herhaal dit klakkeloos sonder om nader ondersoek te doen), en rokkel ons lidmate af en weg.”

Dis jammer dat ons so dikwels die Here se Naam oneer aandoen deur ons vooroordeel en blatante jaloesie.

Jesus se perspektief is dat God deur baie mense werk en dat almal op dié wyse in diens van die Here staan.

Vind aansluiting, spreek waardering uit, bou en behou eenheid, en sê saam met mekaar die duiwel die stryd aan vir sy vernietigende werk onder mense.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.