ToekomsVenster: Wie sal Ek stuur?

oos-vrystaat-deur-jb

‘n Landskap in die ooste van die Vrystaat. Foto: Juanita Badenhorst.

Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!” – Jes. 6:8

Is daar ʼn meer bekende teks as die een in Jes. 6. In ekstase en bewondering oor die gesig wat Jesaja gesien het, net  om dan met sy eie nietigheid en sondigheid gekonfronteer te word, stel hy homself ter beskikking van God om sy opdragte uit te voer. Die hemelse gesig van die troonsaal met die verheerlikte God op die troon, omring van engele en lewende wesens maak ʼn besondere indruk op Jesaja. Hierdie ontmoeting vind plaas in ʼn onsekere tyd met die dood van Hosea die koning. Somtyds het ons nodig om die Persoon op die troon raak te sien wanneer omstandighede oorweldigend en ontstellend voorkom.

Die heiligheid van God laat Jesaja sy eie onheiligheid betreur. Wee my, is sy bekende woorde. Ek is ʼn sondige mens. Die belydenis en erkenning word met ʼn reinigingshandeling begroet en die mond van Jesaja word aangeraak met ʼn vuurkool. Die vuur van die Gees word bemiddel en hy word toegerus vir die opdrag wat voor hom lê. Wanneer hy die versugting van God hoor dat iemand na vore sal tree wat die bedoeling van God met sy volk sal gaan uitvoer, kan Jesaja nie langer stilbly nie. Hy bied onmiddellik aan om God se gestuurde te wees.

Wanneer ʼn mens met die Lewende Here ontmoet gebeur twee dinge. Jy word bewus van jou eie kortstondigheid, jou sondigheid en noodsaak aan redding. God kan ʼn gebroke hart nie weerstaan nie en tree onmiddellik reinigend en herstellend toe. Daarna gebeur die noodwendige beskikbaarstelling van die self vir God se diens.

Hoe beskikbaar is jy.

Sien my kom o Heer

Kom tot aan U sy

Was my in U kosbaar bloed

U bloed gestort vir my.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.