ToekomsVenster: Wil ons groei en ’n verskil maak?

hoop-plantjie-groei

(Foto: Engin Akyurt/Unsplash)

Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie. – Joh.7: 37-39

Israel het op sekere tye verskeie feeste gevier. Die feeste het hul herinner aan God se voorsiening en sorg in moeilike en uitdagende tye. Die feeste het simbole van hoop geword. Soos wat God in die verlede onderneem het, so sal Hy ook nou doen.

Dit beteken nie dat God se omgee en sorg as vanselfsprekend geneem moes word nie, inteendeel. Dit was onderhewig aan die gehoorsaamheid en onderdanigheid van die verbondsvolk.

Ons is bekend met die hartseer “opstaan en val” geskiedenis van Israel wat uiteindelik aanleiding gegee het tot die Babiloniese ballingskap.

Wie kan God se liefde, lankmoedigheid en geduld peil? Oor eeue het die Here met sy volk bemoeienis gemaak. Hy het weer en weer sy opregte bedoeling met hulle bewys. Hy het hulle soos ʼn Vader omarm wanneer hulle tot inkeer gekom het. Maar aan die genade van God het daar egter ʼn einde gekom.

God is verhewe, Hy is nie ons gelyke nie. Ons moet nooit vergeet met wie ons te doen het nie.

Wat God ingedagte het, is dikwels in stryd met die praktyk in die lewe van die meeste gelowiges – nie woestyn nie maar waterstrome. Strome water wat inspireer, verfris, aansteeklik ander na die Bron toe trek.

Die Gees, God se Pinkstergawe, stel ons daartoe in staat. Jesus het belowe dat na sy vertrek en Hemelvaart die Heilige Gees sou kom. Hy laat Jesus gestalte kry in ons lewens. Met verdrag verdring Hy alle tekens van ʼn woestyn bestaan en verander dit in lewensgewende oasis.

Iewers langs die pad moet ons ʼn keuse maak en ernstig wees daaroor; wil ons groei of stagneer, wil ons oorwin of altyd verleë staan, wil ons ʼn verskil maak of met die stroom saamgaan?

Met die nuwe jaar voor ons is dit dalk nie ʼn slegte gedagte om krities na ons eie lewens te kyk nie. Hoe sou die Here oor ons dink en voel? Dalk sou Hy sê: “Ek het soveel meer in gedagte vir en met jou as jy my sal vertrou en volhardend voortstu, maar, jy moet besluit daaroor”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.