ToekomsVenster: Woorde van bemoediging

hoop-geel-blom-oop-hande

(Foto: Lina Trochez/Unsplash)

“Ek sou julle kon bemoedig met my woorde, maar niksseggende woorde sou ek terughou.” – Job 16:5 (AFR83)

Daar is nie ʼn enkele mens wat nie ʼn behoefte aan erkenning het nie. Ek praat nie van ʼn egosentriese selfverheffing, wat net jou eie selfbeeld dien nie. Ek praat van eerlike, respekvolle en deernisvolle terugvoer en waardering.

Daar is min mense wat kan regkom sonder om raakgesien te word. Eenvoudige, maar opreg bedoelde woorde soos: “ek waardeer jou”, “jou voorbeeld is aansteeklik”, “ek sien jou raak”, “jy is spesiaal” kan ʼn enorme verskil maak in iemand anders se lewe.

Vir een of ander rede is ons suinig met waardering. Dit is asof ons dink daar sal minder oor wees om self te gebruik as ons ander komplimenteer en bemoedig.

Toegegee, sommige mense het ʼn besondere gawe in die verband maar almal het ʼn verantwoordelikheid om op gepaste tye iemand anders se dag te maak.

ʼn Mens moet jou eie motivering wel deeglik van nader beskou. Die stryd hier binne is subtiel en ʼn mens is dikwels blind vir jou eie agenda. Komplimente sodat dit na jou sal terugkom, is nie waarvan ons praat nie.

Komplimente sodat ander guns aan jou sal bewys uiteraard ook nie.

Niksseggende frases, wat eintlik niks beteken nie, ook nie.

Somtyds wil ek my vroutjie komplimenteer en gebruik die frase: “Jy is wonderlik”. Daarop reageer sy gewoonlik: “Dit beteken niks”. Jy is wonderlik is eintlik inhoudloos, sommer uit die lug gegryp en kortpad vat om iemand anders te laat goed voel.

Regte en opregte komplimente het substansie en kan begrond word.

Waarom sê jy wat jy sê? Waarna verwys jy as jy iemand anders wil bemoedig en opbou?

Uiteraard is die mooiste onder die komplimente en bemoedigende woorde: “God seën jou”. Mense sê dit onnadenkend en waarskynlik sonder om dit te bedoel.

Ek het besluit om die toesegging in elk geval te ontvang. Ek reageer met ʼn  hartlike “dankie” omdat niks komplimenteer soos die seën van God nie.

Wanneer laas het jy ʼn opreg bedoelde kompliment uitgedeel?

Wanneer laas het jy iemand anders spesiaal laat voel?

Het jy ʼn behoefte daaraan? Uiteraard.

Betaal dit dan vooruit.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.