ToekomsVenster: Woorde wat kwes

(Foto: Raphael Schaller/Unsplash)

Maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ‘n rustelose kwaad, vol dodelike gif. – Jakobus 3:8

Waarom trou mense met mekaar as hulle dan besluit om mekaar emosioneel, verbaal, ja selfs fisies aan te rand? Ja, my woorde is skerp en reguit maar dit verdien om gevra te word.

Daar is merkwaardige krag in woorde opgesluit. Met jou woorde sluit jy die toekoms vir ander oop, of toe. Jy gee hoop of dompel daardie persoon in die doolhof van depressie.

God het met woorde alles wat bestaan geskep. Toe Hy praat gebeur daar iets. Dit het nog nooit verander nie.

Ons kan nie soos God praat nie en het nie vermoë wat Hy het nie. Ons is egter beelddraers van die Lewende Here en ons woorde skep orde of wanorde. Wat egter soos ʼn paal bo water staan is dat ons woorde nie van ander se rug afrol soos die spreekwoordelike water van die eend se rug nie.

Dit is ongelukkig so dat as jy jou eers op hierdie trajek bevind dit moeilik is om daarvan om te draai, veral as albei vennote in die huwelik daaraan meedoen.

Dit word ʼn oorlewings meganisme, dit hou jou aan die gang en laat jou van die spanning ontslae raak. Dit maak dit egter nie gepas, reg of Christelik nie.

Dit is soos vloekwoorde. Ek verbaas en verras myself dat ʼn lelike woord of drie sommer net uitglip. Stamp ek my toon is die koeël deur die kerk. Bely is al wat ek kan doen. “Here, ek ellendige mens, wie sal my verlos? Ek dank God, Jesus het die prys betaal”.

Jakobus waarsku ons teen die mag van die tong. Hy sê dit reguit en skerp:

Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. – Jakobus 3:9

Daar is hulp as jy en julle die aaklige gewoonte nie te bowe kan kom nie. Moenie uitstel nie. Jy het mos nou genoeg swaar gekry.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.