ToekomsVenster: ’n Missionale beweging


Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Handelinge 2:41 Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en gebede.

’n Missionale kerk beweeg weg daarvan dat die kerk daar is om mense net meer morele wesens te maak. Die kerk is nie daar om op ’n sosiale vlak ’n lekker klub te skep waar mense met dieselfde waardes geakkommodeer word nie. As gestuurdes wat in hierdie kerk aanbid, gaan dit dus nie oor hierdie waardes nie, maar moet die roeping van die kerk en die enkel gestuurde ernstig opgeneem word.

Die missionale kerk het nie ʼn bepaalde grootte (getalle) of aantal geld of bepaalde geboue nie. Die missionale kerk is in sy bepaalde konteks, wat ook sy geografie insluit, ’n beweging wat mense van God vertel, lewens verander en ook die nood van die spesifieke geografiese gebied wil aanspreek.

Bogenoemde is nie ’n na binne gerigte, ons-help-net-kerkmense beweging, nie, dit is juis ’n na buite gerigte soeke na waar God klaar besig is.

Die kerk sal ook sy rol en plek moet inneem in groter debatte. Die kerk sal sy stem moet laat hoor oor aardverwarming, korrupsie, wreedheid teenoor vroue en kinders en so sou ons kon aangaan.

Ek wil drie karaktertrekke van die missionale kerk noem:

  • Die een is dat dit ’n kerk is wat luister; luister na God en luister na die mense wat in die kerk is. Wat hoor hulle? sê God vir hulle.
  • Tweedens luister die missionale kerk na ander mense buite die kerk. Die rede hiervoor is dat die kerk moet agterkom waar God se lig skyn. Waar is God reeds besig?
  • Die derde karaktertrek van die missionale kerk is dat hy staatmaak op sy eie en ook ander se gasvryheid. In Lukas 10:1-12 word hulle twee-twee uitgestuur en dan maak die wat gestuur word staat op die gasvryheid van die mense aan wie se huis hulle kom en indien die huisbewoners nie gasvry is nie, vee die gestuurde sy skoene skoon van die stof en beweeg aan.

Gebed:

Here ek bid vir my lewe. Dat hierdie lewe spreek van gehoorsaamheid en luister, van kyk en sien waar U besig is. Help my om my hart en gedagtes oop te maak sodat ek vreemdelinge kan innooi in my lewe. Amen.

Leefwyse:

Hoe luister julle gemeente na die Here? Wat doen jy om die Here se stem te hoor?

Iets om vandag oor na te dink:

Praat met jou vriende oor hoe hulle die stem van die Here in hulle eie lewens hoor. Vra ook wat hulle doen om te sien waar God in die wêreld besig is. Wat gebruik hulle om te bepaal waar hy besig is?

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Quin ·

Laas het Maroela Media my nie kans gegun om my vraag te vra nie, maar aangesien dit nou meer binne die konteks is, oorweeg hulle dit dalk nou. Ek wou weet, “toe Moses van die berg af kom met die 10 gebooie, het hy mos gese dat jy jou naaste moet liefhe soos jou self”. God het dan nou op hierdie stadium sy volk in die woestyn in verban en hulle verbied om met ander volke te vermeng. Ek verstaan dan nou dat jou naaste mense van God se volk is, of nie? Ek wonder ook as jy ‘n naaste het, dan het jy tog sekerlik ‘n verste – wie is dit? Moet mens nou die reels van die ou testament ignoreer omdat die nuwe testament gekom het, of is die boodskap van die nuwe testament selgs (met baie respek gese) dat ons sondes deur Jesus se sterwe aan die kruis vergewe word. As die ou testamant/ bybel oop is vir jou eie interpretasie, dan kan mens seker hierdie vrae vra? Ek ken die geddelte in Paulus wat se “gaan uit en gaan verkondig my woord aan alle nasies” dis nie nodig om dit aan te haal nie. Onthou my vraag handel grootliks oor die ou testament. Dit is met nederigheid dat ek op ‘n behoorlike antwoord wag.

Ferdinand ·

Here Jesus Christus…bring ons al meer om missionale kerk te wees

Gert Hattingh ·

Jys reg Quin, Jesus het vir ons sondes kom betaal maar Jesus was ook vir ons die voorbeeld van die volmaakte volhouer van die tien gebooie in Eksodus 20. Ek dink God wil he dat ons Sy Woord as geheel gebruik maar dis ook belangrik dat ons gereeld bid dat die Heilige gees ons sal lei om diensbaar te wees waar God wil he ons moet wees op die aarde. Ek glo God sal ons lei sodat ons die Ware Liefde wat die grootste gebod is kan uitleef by ons huise, werk, in winkels of selfs tydens vakansies oral waar hy ons deur Sy Gees lei. Elke mens is uniek en daarom sal God elke mens anders beroep tot Sy diens. Ek glo ons moet net in totale afhanklikheid aan God leef deur gereelde gebed en Bybel studie sodat ons in ons gees sal ervaar waar ons ‘n verskil kan maak want geen mens se advies kom naby die lewens advies van God nie. Geseende week vir almal :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.