Gedagte vir die dag: Toevallig?

trompet_sonsopkoms_pixabay_stiltetyd (2).jpg

Foto: pixabay.com

Toe Jesus die dorpsingang nader, het ’n begrafnisstoet uitgekom. Toe het Hy na die draagbaar toe geloop en daaraan geraak, en die draers het gaan staan. “Jong man, het Hy gesê, “Ek sê vir jou, staan op!” (Lukas 7:12, 14)

Die dorpie se naam is Nain, en op hierdie dag vind daar ’n goddelike ontmoeting plaas. Terwyl Jesus, sy dissipels en ’n groot aantal volgelinge die dorpie instap, stap byna die hele dorp se inwoners uit, saam met ’n vrou in rou.

Dit was ’n tragedie. ’n Weduwee se enigste seun het gesterf. Sy het alleen agtergebly sonder iemand wat haar kan versorg. Haar smart was groot, haar toekoms onseker. Nou stap hulle die dorp uit na die begraafplaas waar hulle sy liggaam in die grond gaan neerlê.

Sy stap uit, Jesus stap in. ’n Ontmoeting vind plaas, ’n hemelse een. Die hemel raak die heuwels. Heerlikheid reik uit na smart. Jesus sien haar in haar rou. En Hy is die regte Man op die regte tyd. Toe sy oë op haar val, voel Hy innig jammer vir haar. Hy gaan dadelik nader en vat aan die draagbaar. Die draers gaan staan en Hy praat: “Jong man, Ek sê vir jou, staan op!”

Hoor die gesag in sy stem, sien die passie in sy oë!

Was Jesus toevallig op die regte plek op die regte oomblik? As Hy 50 minute later opgedaag het, was die jong man klaar begrawe.

Was die ram toevallig daar toe Abraham iets in Isak se plek moes offer (Gen. 22:13)?

Was Rebekka toevallig by die diere se drinkplek toe Abraham se slaaf vir Isak ’n vrou moes vind in ’n vreemde land  (Gen. 24:15)?

Was dit toevallig dat Rut in Boas, presies die regte man, se land are opgetel het om te oorleef (Rut 2:3)?

Nee, dit is geen toeval nie. God het dit so beplan. Hy het ook ’n unieke plan spesiaal vir jou.

Bron: Jesus se woorde vir elke dag deur Jan de Wet
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Delia ·

Toevallig…iemand het eendag vir my dit so gesê. TOE-VAL-die-LIG. Toevallig bestaan nie vir my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.