Gedagte vir die dag: Toordery?

Foto: pixabay.com

Maar Petrus antwoord hom: “Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop?” (Handelinge 8:20)

“Toe die vervolging van die gemeente in Jerusalem met geweld losbars, het hulle padgegee, so asof God hulle uit hul veilige nessie wou uitdwing. So ver hulle gegaan het, het hulle getuig. Filippus het in Samaria gaan preek, hulle het allerhande wonders verrig en die mense het geglo. Die apostels het toe vir Petrus en Johannes na Samaria gestuur om die werk te versterk.

Maar daar was nog ’n man in Samaria wat ’n kans gesien het om sy aansien te versterk: Simon, wat ook “gelowig” geword het, en tevore “Samaria met sy toorkunste verstom het” (v. 9). Hy wou vir Petrus geld gee om ook die geheim van die gawe van handoplegging te leer om die Gees aan mense mee te deel. Wat ’n wonderlike stukkie “toorkuns” sou dit nie in sy arsenaal gewees het nie!

Petrus wys hom weg met minagting. Dis die tyd van God se open-baring en die Gees van God is nie te koop nie, ook nie om Simon se “afguns” te stil nie (v. 23). Ja, hy was so min of meer gelowig, maar hy het Petrus-hulle as ’n bedreiging gesien, mense wat “truuks” kan uithaal wat hy nie kon doen nie. Petrus sê hom reguit dat hy hom moet bekeer, en Simon skrik so groot dat hy voorbidding vra dat “niks hom tref nie” (v. 24).

Die diens aan en van God is geen towery nie. As jongman het ek een aand na ’n groot saamtrek gegaan waar die voorganger oorverdowend deur ’n mikrofoon op mense geskreeu het “om die Gees te ontvang”. Hy het vertel hoe mense se bene langer groei, en hoeveel honderde  kankers op daardie oomblik deur sy hande genees word. Ek het opgestaan, geloop en nooit weer teruggegaan nie. Die Gees van die Here kom op sy eie manier na dié wat Hom aanroep. God is altyd stil Teenwoordig by ons, maar Hy maak Hom deeglik aan ons bekend.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.