Gedagte vir die dag: Tot “daar ver”

woestyn_voetspore_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wat God belowe het, is vir julle en julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep. (Handelinge 2:39)

Hier word God se ou verbond met sy volk, doer van Sinai in die woestyn af, na almal uitgebrei. Die getuies van die Gees het in alle tale gepraat. ’n Mens wonder of Petrus besef het presies wat hy sê, want God sou later eers in ’n gesig aan hom verduidelik dat Hy die “heidene” oftewel nie-Jode ook insluit. Dit was ’n rewolusionêre gedagte: God is nie net God van een bepaalde volk of stam of kultuur nie, Hy roep almal na Hom toe.

Petrus se boodskap het die hoorders so besiel dat 3 000 mense, drie redelike groot kerkgeboue vol, dit dadelik aangeneem en hulle laat doop het.

Sowat ’n halfeeu gelede is aan elke kind in die Sondagskool (oftewel kategese) ’n “teksboekie” uitgedeel, met ’n Bybelteks en ’n gesangvers wat as tuiswerk vir elke Sondag (vir punte) uit die kop geleer moes word. Daardie tekste wat so ingedril is, het by baie mense bly steek. En hierdie teks was ’n gunsteling, feitlik in elke teksboek, jaar na jaar. Onderwysers het dit maar moeilik verduidelik, maar tog die boodskap laat deurskemer dat “daar ver” tot in alle geslagte beteken en dat God ook die God van kinders en kinders se kinders is, en dat Hy deur die geslagte bly roep.

Daar is ’n mooi storie dat Maria as die “ewige moeder van die  Heiland” haar Seun deur die geslagte heen in elke hart van elke mens soek. Kom ons pas dit eerder toe op die Vader: Hy soek sy beeld, sy Seun, deur die Gees in ons hart, en as Hy selfs net ’n begeerte in die hart vind om Hom te dien, kom Hy in Christus deur die Gees deur al die geslagte om in elkeen van ons te woon. Dis sy “verbond”. Dis sy nabyheid.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

FM ·

Amen

En dit is ons vertroue in ons kinders en alle nageslagte se verhouding met Christus.
Dit is ons vaste wete dat ons Here getrou is.

EK IS

Reynier Frederik ·

Ps.37:25;” Ek was jonk, en ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.”
Dit is absoluut die moeite werd om waaragtig en hardgrondelik tot bekering te kom en Jesus Chritus aan te neem as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.