Gedagte vir die dag:  Tot hiertoe …

uitgestrekte-hand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Jesaja 65:1-9

Ek het gedurig my hande uitgesteek na ’n opstandige volk … (Jesaja 65:2)

Hy maak dit maklik om Hom te sien, Hom te hoor, Hom te beleef. Hy staan op, hierdie Here, Hy wuif met die hand en sê: “Hier is Ek! Hier is Ek!” (v. 1).

En dit vir mense wat Hom nie wil sien of hoor of beleef nie. Hulle het nie na Hom gevra nie, hulle het Hom nie gesoek nie. Wat hulle doen, is om Hom voortdurend te beledig. Hulle doen die gruwelikste sondes.

Dit kan nie so aangaan nie. Tot hiertoe, en nie verder nie. “Ek gaan ingryp. Ek gaan hulle straf … sê die Here” (v. 6-7).

Só verneem ons in dié gedeelte – en ons kan nie help om ons kop te skud nie. Soveel stiksienigheid darem! Sulke kru ongehoorsaamheid …

Wie kan die Here dit kwalik neem dat sy geduld ’n keerpunt bereik het? Wie, anders as Hy, sou dit so lank met sulke mense uitgehou het? Daar kom ’n tyd, en dit is nou, dat Hy sy hande was en die stof van sy voete afskud. Dat Hy mense prysgee wat Hy, agterna beskou, lankal vaarwel moes toegeroep het. Al is Hy God. Al heet Hy hul Here.

Maar omdat Hy Hý is, soek Hy ’n uitkomkans uit sy eie teleur- stelling. Wil Hy hulle nogeens ’n ontsnaproete gee, weg van sy woede af. Troos Hy hulle – verbeel jou: tróós! Húlle! – met die beeld van ’n druiwetros wat nog sap in hom oorhet, nog nut. En sê Hy Hy beplan ’n nageslag vir hulle, sy onwillige dienaars. ’n Toekoms vir mense wat feitlik alles weggesmyt het wat hulle by Hom gekry het.

Tot hiertoe, sê die Here. Én verder. Ek en julle.

Here, Here, hoeveel “tweede kanse” het U my nie reeds gegee nie …

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Here ek kom opnuut om dankie te se vir U liefde en genade vir n sondaarskind…met my mens verstand kan ek dit skaars begryp…ek kan net se Dankie Here