Gedagte vir die dag: Totdat Hy terugkom

skape_lammers_veld_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Hy het sy tien slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: “Gaan doen besigheid daarmee totdat ek kom.” (Lukas 19:13)

Ons moet begin om die Woord van God letterlik te eet, uit te leef, daaroor te slaap en dit bowenal uit te spreek. Net waar ons kyk, sien ons dat die druk toeneem. Dis amper asof die mure ons begin vasdruk.

Jy gaan dalk op hierdie oomblik deur ’n ontsaglike toets en dit voel letterlik vir jou asof jy versmoor. Jy kan skaars asemhaal, wat nog te sê ’n oplossing sien. Dis in sulke tye dat jy jou na die Woord van God moet wend, na Lukas 19:12-27, waar die Here die gelykenis van die talente vertel. In vers 13 staan daar: “Gaan doen besigheid daarmee totdat ek kom.”

God sê vir ons dieselfde as vir Moses toe Moses by die brandende bos voor Hom gestaan het (Eksodus 3-4). God het gesê: “Ek stuur jou na die farao toe. Jy moet my volk, die Israeliete, weglei uit Egipte uit.” Moses het gevra: “En as hulle my nie glo nie?” God het geantwoord: “Wat het jy daar in jou hand?” Moses het geantwoord: “’n Herderstok.” Toe sê God hy moet dít wat hy het, gebruik om die mense te oortuig.

God sê vir my en jou: “Wat het jy in jou hand?” Hy vra nie vir jou wat het jy nié. Hy sê: “Wel, gebruik dit. Gaan doen besigheid daarmee totdat Ek kom.”

Dis deur geloof dat ons God behaag en dis deur geloof dat God die hulpbronne van die hemel tot ons beskikking begin stel. Dis nie uit ons eie vermoëns nie, want Hy wil nie hê ons moet aan sy heerlikheid raak nie. Namate ons elke dag, dag vir dag, leef, moet ons besluit om besigheid te doen totdat Hy kom – maar ons moet dit op God se manier doen en nie ons eie manier nie! Maak nie saak wat nie, klou altyd aan die Woord van God vas.

Here God, dankie vir u Woord wat ons gerusstel, aanspoor en bemoedig. Ek bid dat ek dít wat ek het, sal gebruik om u liefde aan ander te bewys en vir hulle hoop te gee, en sodoende my doel in die wêreld sal bereik. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.