Gedagte vir die dag: Trek jou aan!

gebed-bybel-vrou-landerye-stiltetyd

Foto: Allen Taylor/Unsplash.com

Julle moet die Here Jesus Christus “aantrek” … (Romeine 13:14)       

Om “aan te trek”, kan verskeie betekenisse hê, soos die volgende: die verandering van toestand (soos vuil klere verruil vir skoon klere), aanduiding van identiteit (soos ’n koning wat koninklike klere aantrek), aanduiding van gesindheid (soos rouklere aantrek om rou en berou aan te dui) en aanduiding van identifikasie (soos om ’n uniform aan te trek om met ’n organisasie te identifiseer). Hiermee saam kom nuanses soos die bedekking van skande (soos om ’n naakte persoon toe te maak), verering (soos ’n koning wat vir iemand duur klere gee om aan te trek om eer te demonstreer) en reiniging (soos ’n priester wat gereinigde seremoniële klere aantrek voor diens).

Die Bybel maak ruim gebruik van hierdie beeld en taal. Die interessante ding is om te sien presies hoe dit gebruik word. Die idee van aantrek word op drie maniere gebruik: verlede, hede en toekomstig. In Galasiërs 3:27 (Bybel in Afrikaans 1933/1953) sê Paulus dat almal wat in Christus gedoop is hulle met Christus beklee het (verlede). In vandag se teksvers gebruik hy dit as deurlopende en teenwoordige aksie (hede). In Openbaring 3:5 sê Jesus dat dié wat oorwin met wit klere aangetrek sal word (toekomstig).

Watter een is dit nou en hoe werk dit? Dit is belangrik dat jy hierdie begrip goed verstaan, want dit verduidelik iets belangriks van die koninkryk van God – iets wat baie vandag misverstaan word. Dit is al drie, nie net een nie. Ons gaan vir die volgende paar dae hierby stilstaan. Mag Jesus dit vir ons duidelik maak!

Vader, gee my begrip om u wonders te verstaan!

Bron: Wees oor niks besorg nie deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here Jesus klee my met U genade en liefde om vir ander tot seen te wees…Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.