Tronkstraf bring vryheid vir dié gelowiges  

Taher het geweier om enige name van sy medegelowiges neer te skryf met die pen en papier wat die wagte vir hom in die tronk gegee het. Hy het die pen egter gebruik om Christelike boodskappe op die tronkmuur te skryf. (Foto: Geopende Deure/Verskaf)

God gebruik wonderwerke, drome, televisieprogramme en ander maniere om Homself aan nuwe gelowiges oral in die Midde-Ooste te openbaar. Hierdeur groei die kerk voortdurend en talle Moslems in die Midde-Ooste gee hul harte vir Jesus.

Ongelukkig word die lewe toenemend moeilik gemaak vir nuwe gelowiges, met regerings wat hulle al meer dophou en nie aarsel om hulle gevange te neem nie. Gelowiges, veral dié uit ʼn Moslem-agtergrond, word elke dag in die gesig gestaar deur bedreiging van verwerping, geweld, arrestasies en tronkstraf.

Dié situasie het nog meer vererger sedert die Covid-19-pandemie begin het, want mense wat hul geloof in die geheim beoefen word tydens die inperkings saam met hul potensiële vervolgers binnenshuis vasgekeer. Isolasie tydens die inperkings lei daartoe dat die dreigemente van vervolging toegeneem het en dié gelowiges al meer sukkel om hul geloof weg te steek.

Hoë prys vir sy geloof

Taher* is ʼn voormalige Moslem van die Midde-Ooste wat sy hart vir Jesus gegee het. Sedert hy tot bekering gekom het, is hy passievol daaroor om sy geloof met ander te deel. Hy is deur die geheime polisie gearresteer en weggeneem, terwyl sy vrou en twee dogters magteloos toegekyk het. Hulle het ook sy huis geplunder op soek na bewyse van sy Christenskap.

Hy is in ʼn piepklein tronksel opgesluit en snags vir ure eindeloos ondervra, maar hy het dapper vasgestaan in sy geloof. Hulle het hom ʼn pen en papier gegee en probeer dwing om die name van sy medegelowiges neer te skryf, maar hy het volstrek geweier om enige name neer te skryf.

ʼn Kragtige boodskap

Taher het die pen egter vir ʼn ander doel aangewend – om stilletjies woorde van bemoediging op sy tronksel se muur te skryf. Met Matteus 7:7 in gedagte, het hy die volgende woorde op die muur geskryf: “Vra, soek, klop, en dit sal aan julle gegee word.”

Hy hoop dat ander gelowiges van die ondergrondse kerk wat dalk in dieselfde sel beland as hulle in die tronk gegooi word hierdie woorde sal raaksien, en dat dit hulle sal bemoedig om sterk te staan in hul geloof.

Taher is wonderbaarlik op borgtog vrygelaat. Toe hy maande later verhoor en gevonnis is, het die regter hom vrygespreek op voorwaarde dat hy dadelik ophou om die Evangelie te verkondig. Hy sou onmiddellik tereggestel word as hy gevang word dat hy die Woord bedien.

Taher bid saam met ʼn ander geheime gelowige vir die Here se wysheid en leiding in die beproewings wat hulle weens hul geloof in die gesig staar. (Foto: Geopende Deure/Verskaf)

Evangelisering is sy roeping

Hy vertel: “Ek het my egter nie aan dié dreigement gesteur nie en het dadelik weer begin om die Evangelie te verkondig nadat ek terug is huis toe. Ek het my nie laat afskrik van my roeping om te bedien nie. Hoewel ek in die tronk was, het ek in hierdie moeilike tyd ware vryheid ontdek. Ek het vryheid gevind deur my geloof in Jesus en die tyd wat ek saam met Hom deurgebring het terwyl ek opgesluit was.

“Toe ek vrygelaat is, het die situasie baie gevaarlik vir my en my gesin geword. Die geheime diens het ons oral agtervolg en hul teistering het oorweldigend geword. Ek kon ook glad nie werk kry nie. Ons het gevolglik ʼn biddende besluit geneem om ons tuisland te verlaat.”

Taher en sy gesin is vandag vlugtelinge in ʼn naburige land, maar hulle hoop dat God eendag vir hulle ʼn deur sal open om terug te keer na hul tuisland.

Broodnodige ondersteuning maak ʼn verskil

Geopende Deure streef daarna om gelowiges soos Taher in verbinding met ander gelowiges te bring sodat hulle kan besef dat hulle nooit alleen is nie. Hulle het nou meer as ooit tevore nodig dat hul broers en susters regoor die wêreld hulle bystaan en ondersteun.

Jonathan*, ʼn veldwerker van Geopende Deure, sê: “Ons probeer voortdurend nuwe gelowiges in die Midde-Ooste bereik en hulle, waar moontlik, met ʼn gemeenskap van gelowiges in verbinding bring. Ons het talle aanlyn programme wat ons daarmee help. Ons help ons geloofsfamilie in hierdie gebied met pastorale sorg, fisieke ondersteuning en hulp om in hul geloof te groei.”

Jy kan vandag help om gelowiges wat hul geloof in die geheim moet beoefen en wat deur die ergste vervolging in die gesig gestaar word te ondersteun deur beradingsopleiding, praktiese en geestelike ondersteuning by ʼn Christelike gemeenskapsentrum en aanlyn opleiding vir kerkleiers. Enige geskenk wat jy kan gee, sal die wêreld beteken vir ʼn “geheime gelowige” – klik hier om vandag ’n verskil te maak.

*Name verander vir sekuriteitsredes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.