Gedagte vir die dag: Troos vir bangwordtye

rus-by-God

Foto: Tearsinabottle.wordpress.com/Royalty-Free/Corbis

Lees: Psalm 56

Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op my trane gelet. In u boek staan hulle opgeteken. (Psalm 56:4, 9)

Vrees het die manier om ’n mens soms so skielik te oorrompel dat jy skoon vergeet hoeveel maal daar in die Bybel staan dat God se kinders nooit hóéf bang te wees nie. Die psalmdigters het die geheim ontdek hoe ’n mens eens en vir altyd van jou vrese ontslae kan raak: Jy kan daardie vrees omruil vir vertroue op God. Jy kan dus maar weier om vir vrees die deur oop te maak as dit weer aan jou deur kom klop. Want dit is net jy wat die deur tussen jou en jou (baie keer ongegronde) vrese met die grendel van vertroue kan uithou.

In sy eie swaarkrysituasie ontdek die arme Job dat dit juis daar die dinge is wat sy grootste vrese was, wat in sy lewe gerealiseer het. “Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref,” kla hy in Job 3:25. Jy kan dus gerus ophou om die bobbejaan agter die bult te gaan haal as jou eie vrese jou weer lamlê. Heel waarskynlik ís daar nie eers ’n bobbejaan agter daardie bult nie! Vertrou liewer jou vrese aan God toe – Hy is almagtig en meer as bekwaam om hulle te ontlont. Onthou dat daar heeltemal niks is wat jy en God nie saam kan hanteer nie.

Here God, ek wéét dat ek nie bang hoef te wees nie omdat U in staat is om elkeen van my vrese te kelder, maar soms slaan die vrese wat ek so diep weggebêre het, tog weer deur. Verlos my asseblief van elkeen van hulle. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Blondie ·

Dit is so waar. ..Here my God, wees ons genadig in die tye van vrees. …dat ons absoluut op U sal vertrou in onseker tye. Amen

Muis ·

Amen daarop ons hoop en bestaan is in U Naam! Staan ons by in ons daaglikse behoeftes en vergewe ons al ons sondes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.