Gedagte vir die dag: Twee fondamente

Blomme_Veld_Berge_ReintDykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. (Matteus 7:24)

Die Here Jesus het lank en ernstig met sy dissipels gesels. Hy het hulle moed ingepraat oor die swaar van die lewe, hulle gewaarsku om hulle nie aan aardse rykdom te steur nie, maar vir hulle skatte in die hemel te versamel. Hulle moet die sout en die lig van die aarde wees en nie in geloof verflou nie. Niemand kan God en Mammon tegelyk dien nie. Hy het hulle vermaan om hul alledaagse sorge aan die Here oor te gee en moeite te doen om Hom van nader te leer ken.

Die oordeel oor ander berus nie by hulle nie, selfondersoek is belangriker.

God ken elke behoefte en Hy sal vir sy kinders sorg soos enige goeie aardse vader. Soekers na lewenswaarhede sal beloon word en toe deure sal oopgemaak word. God verwag van sy kinders om hul naaste lief te hê soos hulself. Dis wat die Wet en profete hulle geleer het en dis verstandig om daarby te hou. Die pad wat hulle sal moet loop, is nie maklik nie. Dis nou en steil en die poort na die hemel is smal. Hulle moet versigtig wees vir vals profete wat die waarheid verdraai en verdeeldheid veroorsaak. Nie elkeen wat Jesus se Naam op die laaste dag aanroep, sal gered word nie, wel dié wat die Vader se wil doen en goeie vrugte dra.

Ten slotte vermaan Hy hulle om hierdie grondbeginsels as fondament vir hul geloofshuis te gebruik. So ’n huis staan vas en sal die storms van die lewe kan weerstaan.

Here Jesus, U is die ewige rots waarop ons bou. Dankie dat ons sterk en stewig kan staan op hierdie rots.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.