Gedagte vir die dag: Twee paaie

Stiltetyd-17.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

‘Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.’ (Matteus 7:13)

Ken jy die Victoriaanse plakkaat van ‘De breede en de smalle weg’? Ek het dit die eerste keer as dogtertjie agter die haarkapper se deur gesien en dit het my bang gemaak. Ek het die mense op die smal weg jammer gekry, want dit het gelyk asof hulle baie swaar leef en in elk geval nie by die hemel uitkom nie.

Vandag besit ek self een van daardie plakkate en kyk nou weer daarna. Die poort na die verdoemenis is wyd en is oorspan met ’n boog: ‘Welkom!

Links sit groepies vriende om tafels met drankies, agter hulle is die balzaal en regoor die balzaal die schouwburg, die speelbank, die loterij en die mark. Van daar af gaan dit slegter. Mense besteel en vermoor mekaar en maak oorlog. Daar is ’n gat in die heining en van die gelowiges aan die ander kant is besig om daardeur te klim! As hulle maar die vuur en vlamme van die hel kan sien! Ongelukkig is die hemel met sy goue stad en engele wat op goue trompette blaas, nou agter hulle en die steil pad wat hulle geloop het voor hulle afgedraai het, vergete. Mense wat reeds deur die nou deurtjie in is, by Jesus se kruis stilgestaan en van die lewende water gedrink het, loop na die slegte kant toe oor!

Miskien is die voorstelling in ons oë naïef en outyds, maar dis geïnspireer deur die Bybel, en die tekste wat op strategiese plekke geskryf staan, bied stof tot nadenke. Wêreldsgenot lyk so onskuldig, maar dit kan jou vandag ook na plekke toe neem waar jy Jesus vergeet.

Dankie, Jesus. Ons is op pad en ons kyk vorentoe.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.