Gedagte vir die dag: Twee uiterstes

Boekevat Foto - Sonsopkoms oor dam

Foto: Christo Brits

As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, wat is die mens dan dat U aan hom dink? U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon. (Ps 8:4-6)

Die Bybel is vol teenstrydighede: die eerstes sal laaste wees; ’n mens moet jou lewe verloor om dit te kan vind; kinders is die belangrikste in God se koninkryk; as jy werklik groot wil wees, moet jy bereid wees om ander te dien; ons is terselfdertyd sondaars van geboorte af en beeld van God. ’n Ou Joodse rabbi het eendag opgemerk dat elke mens twee klippe in sy sak moet dra. Op die een moet daar geskryf staan: Ek is maar net stof en as, en ’n ander met die boodskap: Die wêreld is om my ontwil geskape. En, voeg die rabbi daarby, hy moet elke klip gebruik soos hy dit nodig kry.

Watter waardevolle les vir die jaar wat voorlê: Besef elke dag hoe nietig en onvolmaak jy is, maar weet ook dat God jóú as sy beeld draer op aarde geplaas het en dat Hy sy Seun gegee het sodat jou sondes betaal kon word. As jy die dag baie goed oor jouself voel, herinner jouself gerus daaraan dat jy ’n stofmens is, en wanneer jy saam met Job op die ashoop sit, dink daaraan dat jý die kroon van God se skepping is, sy beelddraer. Tussen hierdie twee pole behoort jy dit reg te kry om vanjaar met ewewig te leef.

Hemelse Vader, gee dat ek nooit hoogmoedig sal word nie, maar altyd sal onthou hoe nietig ek is. Tog loof ek U dat U my so wonderlik gemaak het; dat ek u beelddraer mag wees. Amen 

Lees Psalm 8

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Putter ·

Kan escom nie maar hulle krag direk aan die verbruiker verkoop nie veral in die dorpe dan is hulle verseker hulle kry hul geld.of is dit nog n groter geleentheid om bedrog te pleeg ,ek vra maar net?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.