Gedagte vir die dag: Twyfelaars

Paternoster_vissers_boot_see_strand_Sune.jpg

Foto: Suné van Heerden

Lees Matteus 11:2-3

“Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?” (Matteus 11:3)

Dit is asof jy jou ore nie kan glo nie: Johannes die Doper, van almal, stuur sy volgelinge om by Jesus uit te vind of Hy inderdaad is wie Hy sê Hy is …

Kan dit wees? Dit is dan die man wat met soveel ywer die koms van sy “meerdere” verkondig het, die Een wie se skoene hy nie werd is om uit te trek nie (vgl. Matt 3:11). Het hy wat Johannes is ’n fout gemaak? Was sy bediening dan op ’n vergissing gegrond?

Johannes was nie die eerste een wat aan Jesus getwyfel het nie, en hy sal ook nie die laaste wees nie. Daar is ook twyfelaars tussen diegene wat sy Naam luid in die openbaar uitroep en wat bekend staan as predikers of priesters of profete. Of dopers.

Johannes en ons moet dit goed verstaan: Twyfel se tuin lê teenaan die gelowige se tuisveld. Heelwat van ons tyd word daar verwyl. Dit is daar waar ek sit en wonder of Hy my hoor as ek roep. Of Hy regtig my klagtes ken. Of Hy iets daaraan kan doen.

Dit is daar waar die “hoekom-boompies” met die “waarom- bessies” groei waarvan ek so gereeld pluk en eet.

Twyfel maak ons nie minder Godskinders nie; in hierdie tuin vind ons susters en broers wat ons dalk nie daar sou verwag nie. Dit is teenoor hulle wat ons die plig het om weg van onsself te beduie, te sê: “Dáár is die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem!”

Sodat ons vir hulle, en hulle vir ons, kan help om by die tafel langsaan te gaan aansit, daar waar die brood van die lewe bedien word.

U sien my hart wanneer ek sukkel om te glo, Here. Maak dit stil in my.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Derek ·

Is dit nie juis die tyd waarin ons vandag leef nie, terwyl die Boom van Lewe in die tuin staan kies die mense om die boom van kennis van goed en kwaad te aanbid nie? Leer die Woord ons nie dat die angel van die wet is die dood en dat die wet die tugmeester is na Christus toe nie? Tog houvas mense nog aan die doop en besnydenis as n “weg van saligheid” terwyl die Saligmaker juis gekom het om ons deur Sy Gees, die Heilige Gees” die Waarheid te leer ( Johannes 16). Nou wonder mens hoekom ons land so lyk, dan antwoord die Skrif ons sonder twyfel. Suid Afrika leef onder die vloek van die wet omdat God se gebooie deur die regering as tweede handse leringe afgemaak word en het godsdiens as hul god en saligmaker aanvaar. ( Matheus 16 ). Terwyl die Boom van Lewe verwerp word en die groot gebod (1 Korintiers 13 ) geignoreer, wie aardse besittings as hul koningkryk dien. Waar het die fout dan gekom, geloof sonder liefde? Selfs gelowiges het die goue kalf begin aanbid (Daniel 12).

Yvonne ·

Here dankie vir die woord vanoggend…U die Kenner van my hart en gedagtes U weet hoe dikwels ek struikel…dankie Here elke dag saam met U is n nuwe dag vol genade…Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.