Gedagte vir die dag: Twyfelaars

Boekevat-Wortelgat-Berg-ABrits.jpg

Foto: Annelize Brits

Jesus se reaksie daarop was: “Glo jy nou nadat jy klaar gesien het? Geseënd is hulle wat nie sien nie, en tog geglo het.” (Johannes 20:29)

Ek wonder altyd hoe dit sou gelyk het as Tomas toe wel sy vingers in die gate gesteek het waar die spykers was. Hoe dit sou gewees het om jou hand teen Jesus se sy te hou, en te voel dat daar ’n gat is waaruit bloed en water gevloei het.

Jesus het mos vir die twyfelaar gesê: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy” (Joh 20:27a). Maar ons weet nie of hy dit toe inderdaad gedoen het en of sy moed hom nie oplaas begewe het nie.

Ek wonder ook hoe Tomas gevoel het toe hy opkyk en Jesus vir hom sê: “(E)n moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig” (Joh 20:27b).

Sug die Here nie maar swáár wanneer mense soos ek vir die hoeveelste keer aan sy goedheid begin twyfel nie? Wat dink Hy wanneer ek weer eens op my eie vermoëns en insig staatmaak, eerder as om by Hom aan te klop?

Tomas se storie help my as ek daarvan oortuig is dat die Here tog sekerlik teen hierdie tyd moedeloos moet wees oor my geloof wat dikwels so klein is. Of oor my baie vrae oor sy liefde vir ons, of my twyfel oor sy almag en sy goedheid.

Jesus het nie vir Tomas berispe oor sy ongeloof nie. Hy het nie op die twyfelaar geskel nie. Nee, Hy het Tomas se twyfel erken en hom op ’n baie praktiese manier gehelp om dit te bowe te kom.

Ek glo Jesus is steeds dieselfde as in Tomas se tyd. Ek is daarvan oortuig Hy doen dit vandag nog, juis vir ons wat Hom nie meer sien nie. Hy het tog aan Tomas gesê dat dié wat glo al sien hulle nie, gelukkige mense is (vgl. Joh 20:29).

Dis dan ook Hy wat ons gelukkig maak. Ons, wat Hom nie sien nie, word deur sy Gees gehelp om die twyfel wat ons heel dikwels beetpak te bowe te kom. Dit doen die Gees op allerlei praktiese maniere.

Die Heilige Gees is ons hulp wanneer ons twyfel, en ons sal dwaas wees as ons nie hierdie hulp aanvaar nie. Ja, ons is die ellendigste van alle mense as ons ons rug draai vir God se Geskenk en só sy ondersteuning van die hand wys.

Hoe sal dit wees as ons dankie sê wanneer twyfel ons wil oorweldig, en dankie sê vir die hulp wat daarmee saam na ons toe kom?

Dalk sal ons dan ook aan die ander kant van ons twyfel saam met Tomas uitroep: “My Here en my God!” (Joh 20:29).

Here, dankie dat U my nie wegstoot as ek twyfel nie, dat U my juis dan help om in U te glo.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
jaco

AMEN, baie dankie aan MM vir die daaglikse gedagte. ons God is groot