Gedagte vir die dag: Tyd – ’n duur kommoditeit

Ma_kind_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Daar is ’n regte tyd vir alles, elke ding in hierdie wêreld gebeur op die regte tyd. (Prediker 3:1)

As jy vir ’n besige ma sê sy moet ontspan, want daar is regtig ’n tyd vir alles, sal sy jou vir seker met ’n bababottel teen die kop gooi. Wanneer ons kinders klein is, is tydbestuur een van die heel moeilikste dinge. Ons voel oorweldig, nie in beheer nie, oormoeg, oorwerk en vergeetagtig.

Ek dink dit is belangrik om te besef selfs hiérdie seisoen in ’n vrou se lewe verdien ’n volwaardige plek. Jy mág maar oorweldig voel. Maar jy kán ook jou kop oplig en diep asemhaal. Jy sál lewend anderkant uitkom, al voel dit nie altyd so nie.

Ja, jou huis lyk nie elke dag soos ’n demonstrasiehuis in Tuis  nie, maar dit is die plek wat jou kinders tuis laat voel. Jou kos proe dalk nie soos iets wat op MasterChef  opgetower word nie, maar jou kinders geniet dit.

Ons as vroue is wonderlike skeppings. Ons het ’n ongelooflike vermoë om meer te doen, meer te hanteer en aan meer dinge te dink as wat ons ooit besef het. As jy dink jy is naby aan jou einde, vra die Maker van tyd vir meer.

Meer genade, meer geduld, meer perspektief, meer deursettingsvermoë, meer volharding … Hy sal dit vir jou gee.

Here, ek het U elke sekonde van elke minuut van elke dag nodig om my te help kies tussen wat belangrik en wat dringend is. Amen.

Bron:
Dagstukkies vir besige vroue saamgestel deur Christelle Webb-Joubert
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.