Gedagte vir die dag: Tyd om na die Here se wil te vra

bospad_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Doen wat goed is en vlug vir die kwaad, dan sal julle lewe! (Amos 5:14)

Die Here is baie reguit wanneer Hy in hierdie Bybelgedeelte sê: “As julle my wil soek, sal julle leef, maar as julle nie my wil soek nie, sal julle sterf.” Soos nog nooit voorheen nie moet ons tot die Here nader. So dikwels, veral met die hedendaagse tegnologie, is dit ’n groot versoeking om na alles buiten God te soek.

In sy boek  Prayer sê Philip Yancey dit raak al hoe moeiliker vir hedendaagse mense om te bid. Sommige van die voorbeelde wat hy gebruik, is baie treffend: ’n Boer gaan kyk op die internet wat die weervoorspelling vir die volgende paar dae of weke sê en tree dan daarvolgens op, eerder as om op sy knieë neer te sak en vir reën te bid. ’n Ma wie se kind siek is, jaag met hom of haar na ’n spesialis en vertrou op die dokter om haar kind gesond te maak, eerder as om langs haar siek kind se bed te kniel en te bid dat God bonatuurlik sal ingryp.

Hiermee sê ek glad nie dit is verkeerd om na die weervoorspelling te kyk of na ’n spesialis te gaan nie. Geensins nie! Wat ek egter wil sê, is dat ons tog moet onthou dat die spesialis ’n instrument in God se hande is en dat die wonderlike tegnologie wat die weer kan voorspel net ’n baie ruwe aanduiding is van hoe die weer dalk kan wees. In my lewe het ek al dikwels gesien hoe God reën bring al is daar geen reën voorspel nie. Ek het gesien hoe God mense genees oor wie die dokters gesê het: “Daar is niks meer wat ons vir jou kan doen nie. Gaan huis toe en sterf in vrede by jou familie.” God het hulle gesond gemaak.

Die Here sê: “Doen wat goed is en vlug vir die kwaad, dan sal julle lewe!” (Amos 5:14). Moenie dwaas wees en elke moontlike geneesmiddel of metode inspan en eers die Here vir hulp vra wanneer daar geen opsies meer oor is nie. Doen dit andersom. Onthou, geloof het voete. Dis ’n doen-woord.

Bron: ‘n Mosterdsaad deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.