Gedagte vir die dag: Tyd vir rus

 Boesmansriviermond_stilte_strand_stiltetyd.jpg

Foto: Annelize Brits

Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie. (Markus 6:31)

Na my onverwagte hartaanval gedurende ’n halfmarathon is ek gedwing om ernstige introspeksie te doen en ’n paar lewensveranderende besluite te neem.

Weens die skade aan my hartspier is ek geforseer om genoegsaam te rus en dit het stadige herstel aan my liggaam mee gebring. Tydens hierdie rustydperk moes ek plat op my rug lê met niks anders om te doen as om my lewe en die pad vorentoe weer in oënskou te neem nie.

Die Engelse gesegde “perfect vision in hindsight” is hier van toepassing. Dit het my geleer dat jy na jou liggaam moet luister anders sal daar verseker ’n prys wees om te betaal.

Elkeen van ons moet bewus wees van ons liggaamlike en geestelike behoeftes voordat ons deur iets soos ’n trauma gedwing word om aandag te gee aan onsself. Om jouself geestelik, emosioneel en fisiek te versorg is nie selfsugtig nie, maar ’n noodsaaklikheid vir jou persoonlike oorlewing.

Voel jy dalk vandag geestelik uitgeput en uitgebrand? Ervaar jy dat jy rus nodig het? Jesus se woorde in Markus 6:31 is ’n bewys dat selfs Jesus besef het Hy en sy dissipels het rus nodig. Dit het gebeur wanneer hulle vir ’n vasgestelde tydperk onttrek het van die samelewing en situasies wat hulle aandag nodig gehad het.

God self was vir ons ’n voorbeeld hierin. Dit is Hy wat die hemel en die aarde in ses dae gemaak en die sewende dag uitgesit het vir rus. Dit is in rus dat ons perspektief en energie kry om ons roeping na te streef. As ek en jy gebalanseerd wil lewe, is dit belangrik om tye van rus te hê waarin die Here self ons siel kan verkwik.

Heilige Gees, leer my om fisiek en geestelik te rus sodat ek bowenal in u perfekte rus mag ingaan. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.