U dienaar luister

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

“God het Hom weer aan Samuel geopenbaar deur die Woord van die Here. Samuel se woorde was tot die hele Israel gerig.” 1 Samuel 3:21

In die ou Hallelujaboek is daar ’n liedjie wat my oupa gereeld vir ons kleinkinders laat sing het: “God bly altyd getrou. Hy sal sy kinders onthou. As droefheid my deel is en laste te veel is bly God altyd getrou.”

God gee nooit moed op met ons nie. Die genade van God sien ons daarin dat Hy nie opgehou het om na Samuel te roep nie. Toe Samuel die derde keer sê: “Praat Here, U dienaar luister,” het daar drie dinge in sy lewe verander. Wanneer ons ophou skarrel, hardloop om onvoorwaardelik na God se roepende stem te luister, verander dieselfde drie dinge in ons lewe:

  1. Ons fokus verander. Samuel se fokus verskuif na die regte plek – weg van Eli na God. Waar hy die nag dadelik vir Eli gesê het “Ek kom!,” was hy die volgende oggend bang om na Eli te gaan. Toe Eli hom vra wat God gesê het, het Samuel hom alles vertel. Eerder bang vir Eli as ongehoorsaam aan God. Toe Samuel se fokus op die regte plek was, kon hy werklik ’n antWOORD bied vir Israel se diepste nood. Waar die Woord in vers 1 “min gehoor is, lees ons in vers 21: “God het Hom weer aan Samuel geopenbaar deur die Woord van die Here. Samuel se woorde was tot die hele Israel gerig.” In Samuel het Israel weer ’n betroubare profeet en rigter gevind wat die brood van die lewe vir hulle kon breek.
  1. Wanneer jy na God se persoonlike roepstem luister, hoor jy Hy roep jou tot ’n persoonlike verhouding. Ná daardie nag toe Samuel die roepstem van God herken en gesê het: “U dienaar luister,” was niks meer in hom dieselfde nie. Toe hy begin het om na God te luister het hy begin om geestelik te groei – vers 19 sê: “Samuel het grootgeword. Die Here was by hom…”. Wanneer ek begin om te luister, word my lewensreis ook ’n geloofsreis, vol diepte, sin en groei.
  1. As ons luister, kry ons nuwe perspektief op ons reis en God se reis met ons. Om perspektief te kry op God se reis met ons moet ons kan terugkyk na die verlede. Samuel kon terugkyk en sien dat God se reis met hom reeds lank voor daardie nag in die tabernakel begin het. God se reis met hom het al begin toe Elkana en Hanna op reis gegaan het om in Silo te gaan offer. Wanneer miswolke om ons saampak en ons uitsig so versper dat ons geen tree meer voor ons kan sien nie, is dit nodig dat ons moet terugkyk in die geskiedenis, nie net die geskiedenis van die wêreld, die land en die kerk nie, maar ook terugkyk in ons eie verlede om te sien hoe God ’n pad met ons gestap het.

Een van die merkwaardigste persone wat ek geken het, was dr. Willem Cruywagen, oudminister van onderwys, administrateur van Transvaal en ook hoofbeskermheer van die Voortrekkers. Oom Willem was reeds 91 jaar toe ek bevoorreg was om saam met hom op die Voortrekkermonument se direksie te kon dien. Hoe het Suid-Afrika gelyk in 1921 toe oom Willem gebore is? Jan Smuts was die eerste minister. Die Eerste Wêreldoorlog was nog vars in die geheue. In sy 91 jaar het oom Willem 13 eerste ministers en presidente sien kom en gaan, en daar was vyf verskillende regerings, naamlik die Suid-Afrikaanse Party, Pakt-regering, Verenigde Party, Nasionale Party en die ANC. Die land het sedert 1921 dramaties verander, regerings het verander, die ekonomie het verander, die tegnologie het verander, voertuie het verander, maar God se liefde, genade en sorg is vandag nog net so nuut en vars as wat dit in 1921 was. Een van oom Willem se kosbare stukkies wysheid was: “Dit maak nie saak hoeveel jare in jou lewe is nie, maar hoeveel lewe daar in jou jare is.” Dit is belangrik dat ons dit onthou, want op ons reis moet ons ook kyk na die hede. God wil vandag met my praat. Hy wil vandag my gebruik. Hy roep vandag my om Hom te volg

Die vraag is, gebruik ek vandag die kanse wat die lewe my op die reispad bied om God te eer?

Nee, moenie dadelik antwoord nie. Gaan terug na jou slaapplek en luister na God.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lena Jonk ·

Wat n pragtige stukkie . Ons bly al n paar jaar in NZ en lees gereeld die dagstukkies en nuus op Morula media. Baie dankie, onthou ons bid altyd vir SA ons Almagtige Vader sal n uitkoms stuur hy weet wanneer en hoe, ons en veral julle moet net moed hou en die geloof behou.
Baie sterkte en voorspoed.
Ons is ook hier in Afrikaanse kerk.
Groete.

Floors ·

Baie dankie vir die gereelde inspirerende dagstukkies. Dit is opbouend en verrykend. Hou so vol asb.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.