Gedagte vir die dag: U handewerk

hawaii-berge_wolke_valleie_Pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 104:24-35

U gee die lewensasem en daar is lewe (Psalm 104:30)

In hierdie jubelende gedig word God die Skepper se dade besing, die ontsagwekkende gevolge van sy handewerk. Die sigbare, tasbare wysheid waarmee Hy alles gemaak het.

Die digter skilder met ‘n breë kwas – aarde, berge, see. Die groot prent is vol lig. Vriendelik, vrolik. Hoor dan: U het die seemonster geskep om mee te speel. Ook hy is van U afhanklik, hy kom haal dan kos uit u hand. Mag u werk U baie vreugde gee, Here!

Deurgaans, soos ‘n prominente ondertoon, skyn daar die waarheid deur dit alles: Die Here versorg sy skepping. Daar is nie sprake daarvan dat Hy maak en laat staan nie. Die skepsels weet: Hy maak sy hand vir hulle oop, hulle kry genoeg. As Hy Hom van hulle sou terugtrek, is dit klaar met hulle. Hy gee lewe, Hy onderhou dit. Prys sy Naam!

En nou, eeue nadat hierdie lofgedig geskryf is, help dit die latere lesers steeds. Al is dit bloot om hulle ‘n ander gesig van God te laat sien – die van die lighartige God. Die Skepper wat bly is oor sy skepping en wat vreugde vind by sy skepsels. Hy voer hulle, Hy speel met hulle. Hy vier die lewe saam met hulle.

Dit alles verlig die somberheid wat dikwels ons baas word. Dit laat die neerdrukkende werklikhede wyk en bring ‘n ander werklikheid in hul plek. Hierdie een dra lig en lewe met hom saam. Dit neurie die geloofswaarheid: Hy hou die hele wêreld in sy hande. Hy hou jou en my in sy hande.

Ek sal bly sing, Here! U gee nooit u handewerk prys nie. My oë bly op U gerig.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Mag u werk U baie vreugde gee Here? O Here ons wat sekerlik die belangrikste is van U skepping stel U teleur my Skepper. Ons bring geen vreugde en laat U treur o Here. Ons laat ons oor aan die wereld se hoerery, dobbel, skinder, dronkaards, leunaars, moordenaars en diewe. Ons vra vergifnis Here vir al ons verkeerde dade. Ons vra Here vergewe ons vir die kruisiging wat ons aan U seun Jesus doen elke dag wat ons nog voortgaan met ons dade. Here raak elkeen van ons aan en vernuwe ons. Gee vir ons harte van vlees en laat U liefde in elkeen woon. Ons is jammer Here skenk ons asseblief U genade en lei ons deur U Gees. Laat U wil geskied en Vader seen ons land Suid Afrika. Seen die mense van Suid Afrika. Laat ons opstaan Suid Afrika want ons Koning kom. Esegiel 12 se as jy nie keer na die wee van God sal jou land vernietig word en dan sal julle sien dat God werklik God is. Laat ons ons opkyk na ons God en ons verneder voor ons God sodat ons vernuwe kan word en weer n land Kanaan kan word. Liefde vir julle almal Suid Afrika. n Mooi en geseende dag

Maria ·

Sjoe vir mooiste stuk vandag dagstukke en Dankie Danien Amen!
Die skaamte sak ek kop neer. U vir ons mooi wereld geg
U het vir ons mooi land gegee …..ons vernietig alles wat U geskep het
U het vir ons diere gegee om op te pas…..ons sorg nie U diere wat U vir ons gegee het nie
U het vir ons Man/Vrou/kinders gegee….ons vernietig dit
Daar nog so baie om te bely .. O Here Vergewe..
Esegiel 34:18 Julle het op goeie veld gewei, maar julle was nie tevrede nie, julle het die weiveld plat getrap wat oor gebly het. Julle het die skoon water gedrink en julle het die water vuil gemaak wat oorgebly het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.