Gedagte vir die dag: U hoor alles

melkweg_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 4:1-6

As jy ontsteld raak … dink in stilte daaroor na as jy gaan lê … (Psalm 4:5)

Ontsteltenis het vele gesigte. Dit wys hierdie intieme klein psalm vir ons. Die digter val sommer weg met ’n oproep dat die Here hom moet antwoord. U het nog altyd, sê hy; U moet dit tog nou ook doen.

Iewers is hy ’n onreg aangedoen, lei die leser af. Al wei hy nooit regtig daaroor uit nie, weet ons wel dat dit mense en hul leuens is wat hom ontstel het. En hoe volledig kan ons ons nie daarmee vereenselwig nie …

Ja, om die slagoffer van valsheid te wees, is érg. Dit laat jou magteloos. Teen die tyd dat die stories jou ore bereik, is dit te laat. Jy kan jou nie regtig meer daarteen verweer nie, die vals gerugte is soos vere in die wind gestrooi. Wie sal dit ooit kan opruim?

Here, hoor my hulpgeroep! roep die skrywer uit. En dan waarsku hy die oortreders by voorbaat dat hul dag sal kom, daarvoor sal die God van geregtigheid sorg. Want hulle wat op ’n mishoop vol onwaarhede wil koning kraai, stel hulle bloot aan die argwaan van Hom wat hoor as sy kinders kla.

Nou troos die digter ook dié wat onder sulke onreg ly, en hy waarsku: Moet jou nie laat intrek in ander se vuilspel nie, los dit vir God. “Let go, let God.” Hý sal met hulle afreken. Die wiel wat draai, is in sy hande.

Gaan slaap dus maar, sê hy, slaap gerus. Moet jou nie moeg maak met wraakgedagtes wat jou uit die slaap hou nie. Die Here ken die hele storie.

U het my gehoor, U het hulle gehoor. U. weet wat U sal doen. Ek rus by U.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Irma ·

Wat ‘n mooi dagstukkie is hierdie nie, en so waar! Daardie wiel wat draai is in Sy hande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.