Gedagte vir die dag: U stok en u staf vertroos my

 Donker_vallei_woud_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Psalm 23

Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my. (Psalm 23:4, Bybel in Afrikaans 1933/1953)

Die herderstaf en -stok was die toerusting waarmee herders in Bybelse tye hulleself en hul skape beskerm en terselfdertyd die skape beheer het. Wanneer ’n skaap in ’n doringbos vasgesit het, het die herder die herderstaf met sy kromming aan die boonste punt gebruik om die skaap los te wikkel. Die herder het ook sy skape met hierdie staf gedissiplineer en dit gebruik om hulle te vang. Swak lammertjies is met behulp van die staf opgetel tot in sy arms. Die stok was weer ’n tipe knopkierie wat die herder blitsvinnig na wilde diere kon gooi om hulle van die skape te verwilder. “Soos die Heilige Gees ons nader aan God bring, het die herder sy staf gebruik om die skape nader aan hom te bring,” skryf Phillip Keller.

Moses het sy staf gebruik om God se wonders aan die volk te demonstreer. Die Bybel is ons wapen; Paulus noem dit die swaard van die Gees waarmee ons die duiwel kan aanvat soos Jesus tydens sy versoeking in die woestyn gedoen het.

As jy dalk met tye wegdwaal, sal God sy woord gebruik om jou weer digby Hom te bring. Vra die Heilige Gees om jou nader aan God te bring en sorg dat jy jou aanvalswapen, God se Woord, goed genoeg sal ken om die duiwel daarmee te troef.

Here, dankie vir u “stok en u staf” waarmee U my vandag nog beskerm en toerus tydens versoekings. Maak my bereid om my Bybel noukeurig te bestudeer sodat ek dit goed genoeg sal ken om die duiwel daarmee aan te vat soos U gedoen het. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.