Gedagte vir die dag: U Woord, my lig

bybel.jpg

Argieffoto

Lees: Psalm 119:54-56, 89, 105

U voorskrifte is vir my ’n lied in my lewe hier op aarde. U woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel. U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. (Psalm 119:54, 89, 105)

Een van die heel belangrikste ligbakens op die pad van die nuwe jaar is jou Bybel. Psalm 1 vertel die mooi storie van iemand wat vreugde vind in God se woord en sy voorskrifte dag en nag oordink. Só iemand, skryf die psalmdigter, is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. So ’n mens is ook voorspoedig in alles wat hy aanpak – en dit is mos juis wat ons graag in die nuwe jaar sal wil hê. Die Hebreeuse woord wat hier met voorspoedig vertaal word, beteken eintlik gelukkig. Een van ons predikante het een Sondag hieroor gepreek en gesê hy hou die meeste van die 1953-vertaling se weergawe: “welgeluksalig”. As ons hierdie woord opdeel (wel + geluk + salig), beteken dit eintlik drie keer gelukkig.

Ongelukkig is tyd met God se Woord nie vir álmal ’n vreugdeervaring nie. Sommige mense doen dit uit plig en ander omdat hulle by God punte wil verdien. Probeer om vanjaar jou Bybel te lees as God se liefdesbrief aan jou. Vra sy Gees om sy Woord vir jou oop te sluit sodat jy sy stem duidelik met jou sal hoor praat wanneer jy dit lees. Dan sal Hy onderneem om vanjaar vir jou te sorg, om jou voorspoedig te maak mits jy jou vreugde in sy Woord vind en daardie Woord gehoorsaam.

Here, help my om elke dag vreugde in u Woord te vind; dit sorgvuldig te bestudeer en te oordink, sodat ek vanjaar u voorspoed en sorg kan beleef. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.