Uit die huis verjaag, maar God het voorsien

Sarah het ondanks talle uitdagings in haar Moslem-gemeenskap gekies om Jesus te volg. (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Die klank van ʼn deur wat toegeslaan word, weerklink in die straat. Die toe deur skei Sarah* van haar pa, ma en broer. Sy is pas uit die huis gegooi. Sy is bang, want dis gevaarlik om in die aand alleen buite in die donker strate te wees. “Jy verdien om dood te wees,” sê haar pa voordat hy haar weer aanrand.

Sarah (27), ʼn Christen-vrou vanuit Noord-Afrika, is een van talle vroue reg oor die wêreld wat gebuk gaan onder die “onsigbare pandemie” van geslagsgebaseerde godsdienstige vervolging weens hul geloof in Jesus. Haar verhaal illustreer wat met baie vroue in hierdie streek gebeur wanneer hulle volgelinge van Jesus word.

Vir enkellopende vroue wat tot bekering kom en Christenskap aanneem, bestaan die risiko van fisiese geweld, seksuele aanranding, huishoudelike opsluiting (huisarres) en gedwonge huwelike. Hulle vervolging word egter dikwels nie raakgesien nie omdat dit stilgehou word.

Die moeilike pad na Jesus

Sarah is soos die meeste kinders in Noord-Afrika volgens streng Moslem-tradisies grootgemaak. Haar pa is ʼn Imam in die dorp se moskee en die gesin is toegewyde Moslems. As kind het haar gesin haar gereeld aangerand om haar te dwing om aan Islamitiese rituele deel te neem.

Op 16-jarige ouderdom het sy besluit om Islam te verwerp en eendag ʼn kerk besoek. Ná die kerkdiens het sy ʼn Bybel by iemand gekry en dit huis toe geneem, waar sy dit onder haar bed moes wegsteek. Die boodskap van Jesus het vrugbare grond in haar hart gevind en sy het tot bekering gekom.

Op straat oor haar geloof

Toe haar pa die Bybel ontdek, het hy haar woedend gekonfronteer en moes sy hom die waarheid oor haar bekering vertel. Hy het haar erg aangerand en haar daarvan beskuldig dat sy ʼn verraaier is wat die dood verdien. Hierna het hy haar beveel om die huis te verlaat en die deur het agter haar toegeslaan – ʼn jong tienermeisie met nêrens om heen te gaan nie in ʼn land waar vroue slegs hul familiehuis verlaat wanneer hulle trou.

Hoewel sy sonder heenkome was, het Sarah geweet God sal vir haar voorsien. “Ek het in my binneste geweet dat Jesus my sal beskerm. Ek het ʼn Christen-vriend vir hulp gekontak. Sy familie het my kom oplaai en na hulle huis geneem, waar ek tydelik kon bly en deur Geopende Deure se vennote ondersteun is. Ná sowat drie maande het Geopende Deure vir my ander huisvesting gereël,” vertel sy.

ʼn Nuwe lewe

Ondanks die feit dat sy as jong meisie sonder ʼn heenkome op straat beland het, kan Sarah vandag vorentoe kyk na ʼn nuwe lewe in diens van die Here. (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Sarah het haar lewe met Geopende Deure se hulp weer opgebou. “Ek kon aanvoel dat talle gelowiges, wat ek nie persoonlik geken het nie, vir my bid. Dit het vir my vreugde gebring en my laat voel dat God by my is. Diep binne-in my het ek geweet dat Hy vir my ʼn uitkoms sou gee as ek in Sy nabyheid leef.

“Ek het ʼn uitdagende pad gekies toe ek besluit het om Jesus te volg. Ek het geweet dit gaan moeilik wees, maar het nooit hoop verloor nie. Ek ervaar ook nie meer vrees nie, want God werk in my om my elke dag nog meer te verander,” sê sy.

Danksy die bystand van Geopende Deure se ondersteuners het Sarah vandag ʼn werk en ʼn inkomste, en is sy ook betrokke by die dissipelskapsopleiding van nuwe gelowiges.

Help vroue soos Sarah

Geopende Deure help vroue soos Sarah met veilige blyplek, voedsel, traumaberading, Bybelse opleiding, dissipelskapsopleiding, Bybelstudiegroepe, die ontwikkeling van leierskapvaardighede en besoeke om hulle te bemoedig.

Met ʼn geskenk van so min as R250, kan jy vandag ook ʼn verskil maak in die lewens van vroue wat weens hul geloof vervolg word. Klik hier om ʼn suster in geloof te help.

*Skuilnaam en illustratiewe foto’s gebruik vir sekuriteitsredes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.