Gedagte vir die dag: Uit my eie kan ek nie reg leef

Kleipotte_2_-stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. (2 Korintiërs 4:7, 10)

So dikwels besef ek my eie gebrokenheid, raak ek bewus van die feit dat ek niks sonder God is nie en Hom bitter nodig in my lewe het. Uit my eie kan ek onmoontlik rein en heilig voor God leef. Dan oorweldig die gedagte my hoe groot God se genade is. Dit is Hy wat my nuut maak en my hart en denke vernuwe sodat ek elke dag meer en meer soos Jesus kan word. Wanneer ek na Hom uitroep, sal Hy my help om te kies om in sy wil te wandel. Al haat God sonde het Hy sondaars innig lief en staan saam met ons teen die sonde. Gelukkig hang my verlossing nie van my eie vermoë of dade af nie.

Ons sterflike liggaam is gedurig onderworpe aan sonde en lyding, nogtans laat die Here ons nooit in die steek nie. Christus het die dood oorwin en daarom het ons die ewige lewe. Paulus herinner ons in hierdie teks dat daar altyd vir ons hoop is, hoe moeilik ons omstandighede ook al mag wees.

Ons moenie toelaat dat vernedering, beproewing en probleme ons onderkry nie – sien dit eerder as geleenthede waartydens God sy kragtige teenwoordigheid in ons kan openbaar. Beperkings in hierdie lewe moet ons daaraan herinner hoe nodig ons God het en aan die feit dat Jesus namens ons gely het.

Moenie tou opgooi nie, ons het al almal voor probleme en situasies te staan gekom wat ons laat voel het ons wil maar liewer opgee as om aan te hou probeer. Kom ons wy ons eerder opnuut aan Christus en moenie toelaat dat vandag se teleurstellings ons van die ewige beloning beroof nie.

Skep moed, want God beloof in sy Woord wanneer ons swak is, word Christus se opstandingskrag juis in ons versterk.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Janí ·

Ek roep al 3 jaar, ek weet God gaan my help. Ek wag getrou op my Here.

Christa ·

Bly glo en hoop die Here se genade is oneindig groot so ook sy liefde

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.