Gedagte vir die dag: Urim en tummim

 edelgesteentes-klippe-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Binne-in die borssak wat deur die priester gebruik word wanneer hy oor regsake moet beslis, moet jy die urim en tummim sit. (Eksodus 28:30)  

’n Deel van die priestergewaad was die borssak waarin twee stene, naamlik die urim en tummim was. Urim beteken “helder” en tummim beteken “onbevlekte”. Die simboliek van hierdie twee stene is duidelik. Die priester se uitspraak wat hy direk van die Here ontvang, sou helder en onbevlek wees. En dus geloofwaardig.

Daarom het die Here ook opdrag gegee dat die woorde “Aan die Here gewy” gegraveer en op die tulband op Aäron se voorkop aangebring moes word as teken dat die Here die Israeliete goedgesind is. Die Here het van die Israeliete verwag om die priesters met die nodige agting te behandel. Hulle was afgesonder. Geheilig vir die Here se diens.

Vir die priesters om duidelike en onbevlekte, suiwer uitsprake te kon lewer, moes hulle op hul beurt volkome aan die Here toegewy wees. God sonder vandag nog mense af om op ’n besondere manier in sy diens te staan. Predikante, pastore, priesters. Hierdie mense wy hul lewens selfloos aan God toe. Baie van hul werk vind in stilte agter geslote deure – en op hul knieë – plaas waar hulle pleit vir die uitbreiding van die Here se koninkryk op aarde en dat hulle as diensknegte sy wil sal ken en gehoorsaam.

Elke dienskneg van God, elke draer van sy Woord, het ons gebede en ondersteuning nodig. Hulle is gesante van God. Maar hulle is ook doodgewone mense.

Here, ek bid vir elke predikant, priester, pastoor, maar ook vir elke gelowige wat U heelhartig dien. Help ons om helder en onbevlek voor U te leef. Amen

Bron: Die Here is my Herder deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Andries

As met priester ‘katoliek’ bedoel word – hulle moet die misleiding en Maria-verafgoding laat staan en by die Bybelse YESHUA uitkom.