Gedagte vir die dag: Vader, vergeef hulle

Stiltetyd-13.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Daarop het Jesus gesê: “Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!” Hulle het ook sy klere verdeel deur die lot te werp. (Lukas 23:34)

Al sewe Jesus se kruiswoorde was betekenisvol. Wanneer ʼn mens sterwend is, is jou woorde min en sinvol. Veral wanneer jou Naam Jesus Christus is. Ek wil enkele van die kruiswoorde uitlig.

Wanneer Jesus van die kruis na sy moordenaars kyk, na die skare onverskillige en ligsinnige omstanders, na die geslepe godsdienstige leiers wat uiteindelik hulle sin gekry het, dan is daar nie haat en oordeel in sy stem nie. Hy vervloek hulle nie. Hy vra nie dat God hulle hulle verdiende straf sal gee nie. Hy bid vir hulle! Hy vra dat die Vader hulle sal vergewe omdat hulle nie weet wat hulle doen nie.

Het hulle nie geweet wat hulle doen nie? Natuurlik het hulle geweet dat hulle ʼn onskuldige man laat sterf. Wat hulle miskien nie geweet het, of wou erken nie, is dat dié Man die Seun van God was. Dat dié Man uiteindelik die Een sal wees wat op die oordeelsdag oor hulle sal oordeel. Dit is nou tensy hulle voor daardie tyd God se vergifnis aanvaar.

Tot aan die einde van sy lewe bly Jesus die deernisvolle Verlosser. Hy kyk vandag nog met dieselfde deernis na ons wat so maklik onnadenkend ons rug op die gekruisigde Jesus draai.

Bron:
By waters van rus deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.