Gedagte vir die dag: Van geskenk tot Geskenk

wyse_manne_kersfees.jpg

Foto: pixabay.com

Toe hulle in die huis ingaan, sien hulle die Kindjie by Maria, sy ma, en hulle val voor Hom neer en aanbid Hom. Toe maak hulle hulle kissies met kosbaarhede oop en gee aan Hom geskenke van goud en wierook en mirre. (Matteus 2:11)

Die feesseisoen tel nou spoed op. Tafels moet in gereedheid gebring word vir die groot Kersfeesete. Kos moet voorberei word en geskenke moet toegedraai word. Geen wonder nie dat Kersfees vir vele ’n spanningsvolle doodwerktyd is. Ma’s moet van vroeg tot laat regstaan vir familie en vriende; pa’s moet braai dat dit klap; kinders moet help huis skoonmaak … Miskien is dit nodig dat ons vandag net een tree terugstaan en behoorlik asemskep. Kom ons onthou weer dit is Christus se fees, nie ons s’n nie. Ons moet ons fokus verskuif na Hom toe oor wie dit nog altyd gaan. Dan neem hierdie feestyd ’n ander tekstuur aan. Dan kom ons ook tot rus aan Jesus se voete. Dan hoef ons nie al weer die ete van die jaar te kook en die beste liggies in die buurt te hê nie.

Van presente gepraat – dis sinoniem met Kersfees. Kinders kan nie wag vir daardie groot oomblik wanneer geskenke uitgedeel word nie; die meeste grootmense ook nie. Jesus se mense weet dat presente altyd in sy teenwoordigheid uitgedeel word – van present tot Present dus. Hy is die eintlike Geskenk agter alle geskenke. Hy is die rede vir die Fees. Soos wat my Engelse vriende graag sê: “Jesus is the reason for the season!” Jesus is God se grootste hemelse present aan ons almal. Hy bring hoop. Hy is lewe. Hy maak die hemele wawyd oop bokant ons lewens. Hy is die brug al die pad na God toe en terug. In sy nabyheid neem die lewe ’n nuwe tekstuur aan. Jesus maak ons lewe betekenisvol. Daarom vier ons in hierdie dae sy teenwoordigheid feestelik. Daarom is ons bewus van sy nabyheid as die heel grootste geskenk aan ons elkeen.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Franna ·

Dankie Here vir U Seun wat U
aan ons gestuur het. Ek bid dat almal dit slegs as N Christusfees
sal sien

Lena Jonk ·

Ons familie glo ook Kersdag is nie vir groot feeste nie maar n rustige en gesellige tyd saam met ons kinders. Party van ons ou volkie se mense vergeet soms ook dat dit n dag is om op te gaan na Sy Huis toe om daar dankie te se vir ons groot geskenk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.