Gedagte vir die dag: Van jongs af

seuntjie_pa_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 71: 1-14

U is my hulp van my geboorte af, reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm (Psalm 71:6)

Die psalmdigters se verskillende idees oor God se omvattende sorg laat die leser dikwels verbyster. Om bloot ‘n klompie van die bekendste voorbeelde te noem: In Psalm 139 bely die digter dat dit God self is wat hom in die moederskoot aanmekaargeweef het; in Psalm 127 roep hy verras uit dat die Here sy geliefdes met goedheid oorlaai terwyl hulle slaap; in Psalm 22 vertel hy hoe goed God vir sy vaders en die se vaders gesorg het.

En dan, hier: ” … op U, Here, het ek van jongs af vertrou” (v. 5). Hierdie vertroue is seker nie ‘moeilik nie, nè? Nie met so ‘n goeie God nie. Nie wanneer sy sorgsaamheid ‘n deurlopende, heerlike waarheid in jou lewe geword het nie. Of hoe?

Dit raak dalk wel ‘n probleem wanneer die ouderdom jou inhaal, soos in hierdie digter se geval. Daardie brose fase in ‘n mens se lewe wat jou, onder meer, met soveel nuwe onsekerhede laat. Wat jou eensklaps laat wonder oor die lewe wat verbygevlieg het, al die geleenthede wat jy deur jou vingers laat glip het. Oor die sin van dit alles. En uiteindelik oor God. Oor sy sorg.

Onthou Hy my ooit? Ek het Hom dan al so dikwels vergeet …

Dit is juis hier waar die bejaarde digter se sekerheid oor God se trou sy lesers help: “Ek, ek sal gedurigdeur bly hoop … ” (v. 14).

Dit is nie maar ‘n hoop-op-die-beste nie. My rots, noem hy Hom. My vesting. My veilige toevlug. My Hoop-met -‘n -hoofletter. U was dit van jongs af vir my. U is dit steeds.

Ek lewe van U, Hoop-van-my-lewe. Ek eet van altyd af uit u hand.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae