Gedagte vir die dag: Van klaaglied tot jubelsang

windpomp_Reint_Dykema_1.jpg

Foto: Reint Dykema

Lees: Habakuk 3:17-19

Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. (Habakuk 3:17-18)

Aan die einde van die boek Habakuk het die profeet sy waaromvrae laat staan omdat hy die antwoorde op daardie vrae ontdek het. Hy is ook nie meer so gespanne omdat God hom nie antwoorde gegee het nie. Sy klaaggebed het nou ’n jubelsang geword. En die eienaardigste is dat niks aan sy omstandighede verander het nie. Hy het egter verander. Hy het geleer om ten spyte van die omstandighede waaroor hy so by God gekla het, in God te jubel; om aan God vas te hou en op Hom te wag. Alhoewel daar geen oeste op die lande en vee in die krale is nie, het hy geleer om God te vertrou.

Jy kan leer om dieselfde te doen wanneer God se antwoorde op jou eie gebede uitbly. Vra Hom om sy blydskap in jou hart uit te stort ten spyte van jou probleme. Om dit vir jou moontlik te maak om op Hom te bly vertrou ten spyte van die donkerte in jou lewe. Een van die wonderlikste eienskappe van Christene is juis dat hulle dit kan regkry om bly te wees in rampsituasies. “Dié wat swaar kry, sien op na die Here en straal van blydskap,” lui Psalm 34:6. Vra God om dit vir jou ook moontlik te maak.

Here, leer my om bly te wees wanneer ek swaarkry, om te jubel ook wanneer daar niks is om oor bly te wees nie omdat U aan my kant is. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elizabeth ·

Wil graag aan die blad behoort, die boodskappe is pragtig en inligting wat deur gegee word is nuus waardig.

carol every ·

Dankie vir vandag se pragtige boodskap; ek glo daar is baie mense wat daarby aanklank sal vind.
Groete
Carol Every

Elbie ·

Wonderlik om te weet in al ons slegte en goeie tye, is God n Ewige Staatmaker!

Toela ·

Ek verwonder my altyd in die wee van God. Vanoggend in die stort vra ek Here help my om altyd Habakuk 3 uit te leef in my lewe. Hier is die bevestiging dat Hy dit wel sal doen. Dankie vir die kosbare woord in Maroela.

Johann ·

Baie dankie vir vandag se stiltetyd. Dit is so van toepassing op my. Ek het vir baie jare al groot probleme waarmee ek moet vrede maak. Die afgelope weke bid ek God om my te help om die dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie. Habakuk 3:17-18 bemoedig my nog verder. Baie dankie Maroela.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.