Gedagte vir die dag: Van sonop tot sononder

sonsopkoms_wolke_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, moet die Naam van die Here  geprys word. (Psalm 113:3)        

Is dit wat die psalmskrywer hier voorstel nie ’n bietjie baie gevra nie? Om van sonop tot sononder die Naam van die Here te prys, is nogal intens, of hoe?

Wat hierdie vers vra, is groter, wyer en dieper as om letterlik 24/7 by die kerk te wees of na lofprysingsmusiek te luister. Jou léwe kan ’n offer wees (Romeine 12:1) – hoe jy eet, hoe jy oefen, hoe jy opstaan en hoe jy werk (Deuteronomium 6:7). God word verheerlik as jy in jou doodgewone handel en wandel met die bewustheid leef asof jy voortdurend in sy teenwoordigheid is. Of jy nou in gesprekke met vriende, in jou eie gedagtes, alleen in die badkamer of aan die werk agter jou lessenaar is … dit maak alles saak.

Sal enige van ons hier op aarde dit regkry om altyd in Hom en deur Hom te beweeg en te bestaan (Handelinge 17:28)? Natuurlik nie. Gelukkig is ons ook reeds daarvoor vergewe! Loof die Here vir die splinternuwe genade wat elke oggend saam met die son oor ons lewens opkom.

Bron: Uittreksel uit ʼn dagstukkie uit Soos appels van goud deur Dr. Michael Mol en Dalene Reyburn. Dié boek is die perfekte kombinasie van geestelike voedsel en fisieke welstand.
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.