Gedagte vir die dag: Van vervelig na opwindend

kind_stiltetyd_gelukkig_vreugde_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Matteus 18:1-5

Toe sê Hy: “As julle nie met ander oë na die lewe begin kyk en soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van God ingaan nie.” (Matteus 18:3)

Ma’s moet gemiddeld 228 vrae op ’n dag beantwoord, het ’n Australiese studie bevind. Kinders vra vrae. Hulle wil weet en leer. Vierjarige dogtertjies vra die meeste vrae, ongeveer 390 per dag. Ma’s moet inligtingsbronne wees en al die vrae kan beantwoord.

Kinders se lewens is opwindend en vol, want hulle leer elke dag nuwe dinge deur vrae te vra. Grootmense verleer die gewoonte om te vra; ons verleer om te leer; daarom raak ons lewens soms voorspelbaar en vervelig. Ons moet weer ons leerharte terug kry. Ons opgewondenheid oor die Bybel is weg. ’n Mens kan nie geestelik groei as jy nie Bybel lees nie. Ons moet weer nuwe skatte in die Bybel ontdek. Weet jy hoeveel hoofstukke het Matteus? Dis dalk nie so ’n belangrike feit nie, maar as jy ’n studie van Matteus maak, is dit uiters belangrik om te weet.

As volwassenes moet ons versigtig wees om ons bekertjies nie met die verkeerde dinge vol te maak nie. Ons moet onthou om te leer. Ons teksgedeelte roep ons op om weer soos kinders te word. Ons moet weer opgewonde raak oor die Here. Gryp Jesus se wonderlike belofte aan: As jy weer soos ’n kind word, sal jy ’n erfgenaam wees in die koninkryk van die hemel. Kinders is die belangrikste in die koninkryk. Om in God se oë belangrik te wees, moet jy weer kind word. Jy moet jouself gering ag, jy moet weer begin leer.

Gryp hierdie leerervaring aan. Leer elke dag iets nuuts oor God. Raak weer opgewonde oor die lewe en die Woord van die Here. Begin leer. Dit sal jou lewe ingrypend ver ander. As ons weer klein word voor die Here, sal Hy ons weer kan gebruik. Jou waagmoed vandag gaan aan jou intense vreugde verskaf!

Here, laat ek weer soos ’n kind word, vol opgewondenheid om van U te leer! Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veritas ·

Australiërs moet net een vraag vra en dit is: ‘Wie kan ons asb leer tel’. Daar is geen kind ter wêreld wat 200+ vrae per dag vra nie. Een vraag en antwoord per minuut, beteken dat drie tot vier ure van die dag bestee word hieraan. En dan is daar nog volwassenes wat dit glo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.