Gedagte vir die dag: Van wie?

skare_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Sê vir my, asseblief, van wie praat die profeet hier, van homself of van iemand anders? (Handelinge 8:34)

Filippus word deur God gestuur op ’n “stil pad” van Jerusalem na Gasa, die einste Gasa wat vandag ’n kookpot van onrus is. Op dié pad is ’n hoë finansiële amptenaar van ’n koningin van Etiopië, iemand wat ontman is (gebruiklik in daardie tyd vir sulke amptenare). Hy was ’n sogenaamde “proseliet van die poort”, oftewel iemand wat aan die katkiseer was in die Joodse geloof. Hy was in Jerusalem vir die fees.

Hy bestudeer die Skrifte, maar verstaan nie sy katkisasie nie. Wanneer Filippus by hom opdaag, wil hy weet wat die profeet Jesaja bedoel het met “soos ’n skaap is Hy gelei om geslag te word” (v. 32). Dis ’n diepsinnige en tersaaklike vraag, want geen mens wat nie van Jesus geweet het, sou dit kon antwoord nie. Selfs die profeet kon slegs ’n buitelyn skets van wat sou gebeur. Maar hier was agternakennis van belang en Filippus kon dit vir hom in een sessie verduidelik, tot so ’n mate dat die amptenaar daarop aandring om gedoop te word.

Saam met hierdie man trek die evangelie tot diep in Afrika. Maar sonder Christus is die grootse profesieë van die profete slegs kultuurgeskiedenis. En die omgekeerde is ook waar: die verskyning van die Christus sou later moeilik verklaarbaar gewees het sonder die Ou Testament. Oud en nuut loop saam, en die een in die ander.

Dis soos ’n mens wat ernstig oor sy lewe terugkyk en agterkom: as dit nie vir die hulp van die Here hier en daar en oral was nie, sou ek ondergegaan het. Want elkeen van ons het ’n geskiedenis en as ons deur ons eie boek blaai met die verligte oë van die Gees, sien ons groot werke van God. En dit gaan altyd voort, want elke dag skryf ons verder aan ons eie geskiedenis onder God se beskerming.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.