Gedagte vir die dag: Vandag se lyding, en die heerlikheid wat op ons wag

strand_wolke_blomme_NathanSteyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. (Rom 8:18)

Om kind van God te wees, vrywaar jou nie van lyding nie. Ons leef nog steeds in ’n bedeling wat aan die gevolge van die sondeval blootgestel is en ons ervaar die swaarkry en seerkry wat daarmee saamhang. Ons raak ook siek; ons geldsake kan skeefloop; ons verhoudinge kan vertroebel. Daar kan so baie dinge met God se kinders gebeur wat hulle moedeloos en kragteloos kan laat. Maar Paulus help ons om perspektief op ’n veel groter werklikheid as vandag se lyding te kry.

Die lyding wat ons vandag ervaar, kan nie opweeg teen die heerlikheid wat vir ons wag nie. Hier kom nou ’n verwagting ter sprake. En dié verwagting het met God se ewigheidsplan te make. Die hele skepping sien uit na die dag wanneer God weer alles sal nuut maak. Want die hele skepping ly onder die gevolge van sonde. Maar hou moed, God se plan sal tot heerlike vervulling kom.

Dit is seker te verstane dat ons maklik onder die impak van slegte omstandighede swig. Dit is mos die aanvoelbare realiteite! Paulus moedig ons aan om te bly hoop. En ja, dis waar dat hoop te make het met die dinge wat ons nog nie kan sien nie (v 24), maar juis omdat ons hoop gebou word op ’n belofte van God kan ons met sekerheid en vertroue daarin volhard. God sal woord hou!

Volhard in die hoop en weet dat vandag se swaarkry nie kan opweeg teen die heerlikheid wat op jou wag nie!

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.