Gedagte vir die dag: Vandag wil ek kruisbeen sit, in my Vader se hart …

pad-vrou-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“Kosbaar is u gedagtes vir my, o God! Hoe onmeetlik is die totaal!” (Psalms 139:17)

Vandag wil ek gaan kruisbeen sit, in my Vader se hart. Net elke gedagte soet en suiwer aangaande my inneem. Elke hoop, elke droom. Ek wil kyk na myself soos Hy my sien. Ek wil voel en ervaar hoe Hy jubel en juig oor my. Stil tevrede in sy liefde vir my. Sag sy glimlag. Warm sy koestering. Dit oorweldig my met verwondering.

Ek wil net daar al my bekommernisse uit my tas uitpak. Elke angstigheid vir Hom gee. Ek wil elke traan en elke hartseer voor Hom neerlê. Elke onrustigheid in my gemoed oorgee. Ek wil stil word en weer opnuut op Hom vertrou. Hom toelaat om saggies tot my siel te spreek. My van binne af te versterk. Sy Heilige Gees in, en deur, en vir my, te laat werk.

Ek wil my hand, in die regverdige hand van my Vader plaas. Sy hand van liefde waaruit niemand my kan ruk nie. Sy hand wat my met deernis gevorm het. Sy hand wat my in onvoorwaardelike liefde saamgeweef het. Sy hand wat vir my ’n mooi deel afgemeet het. Sy hand van geregtigheid, van krag, van redding. Sy hand wat my toevou. Sy hand wat my beskerm. Sy hand wat oor my gedagtes en my hart die wag hou. Sy hand wat aan my skuiling bied. Sy hand wat my oprig en my plaas op die Rots van oorwinning.

Daar wil ek sit en die Vader se hart verken. Die hart van die Vader ken. Totdat my gees vernuwe is. My hart rein. My verstand standvastig in Hom.

Dankie Vader, dat ek nou gereed is om die dag in te gaan, met ’n hart vrolik oor U troue liefde vir my. Ek hoef nie te vrees nie. U gee aan my ʼn veilige staanplek. U lei my op die beproefde pad.

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | E-pos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Yvonne ·

Here dankie vir Ps 139….die bevestiging dat U ons ken met ons wee bekend is….Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.