Gedagte vir die dag: Vanselfsprekend?

voetpad2_namakwaland_abrits_stiltetyd.jpeg

Foto: Annelize Brits

Lees 1 Korintiërs 16:1-12

Wanneer Timoteus kom, moet julle hom by julle laat tuis voel, want net soos ek, doen hy ook die werk van die Here. Niemand moet op hom neersien nie. (1 Korintiërs 16:10-11)

Aan die einde van ’n lang brief het dit tyd geword vir Paulus om ’n klompie laaste reëlings te tref. Hy deel met die gemeente sy plan vir die kollekte wat hulle vir die sukkelende gemeente in Jerusalem moet opneem, en hy verduidelik sy onmiddellike reisplanne. Ook hoe dit hulle in Korinte raak. Dan doen hy voorspraak vir Timoteus, wat op pad na hulle toe is, en hy verduidelik wat die situasie met Apollos is.

In dit alles hoor ons die rustige stem van die ouer man, die geliefde leraar, die geestelike leier wat deur die gemeente vertrou word. Alles is saaklik, rustig, raadgewend en logies. Ons sou dit nie anders verwag nie.

Wanneer hy oor Timoteus praat, is daar wel ’n ekstra sagtheid hoorbaar. Opvallend is sy vermaning dat niemand tog op die jong man moet neersien nie. Help hom, vra Paulus.

Tog vreemd dat Paulus so iets van daardie gelowiges moes vra, nie waar nie? Dat hy vra hulle moet tog nie op die Here se dienskneg neersien nie. Dat hulle hom eerder oor die weg moet help. Sou ’n mens dit nie as vanselfsprekend verwag nie?

Blykbaar nie. Die gemeentemense in Korinte blink toe nie noodwendig uit in gasvryheid nie. Die “ou dominee” poog hier om sy invloed te gebruik om die pad in die gemeente vir die nuwe dienskneg gelyk te maak. Hopelik hoor hulle ook hier sy vermanende stem. Hopelik is die jong man na hulle sin …

Kan dit wees? Is hierdie soort beoordeling dan al só lank met ons? Hierdie gretig-geweeg-en-gemaklik-te-lig-bevind? Hierdie neersien op diensknegte, die “minag” (v. 11, 1933/53-vertaling) van Woordverkondigers?

Here, leer my om vir u gestuurdes te bid. Maak só van my ’n medewerker.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here weerhou my van afbrekende houdings en gesprekke…U Here het die laaste se…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.