Bybelblits: Lees Romeine 8:9-11
Die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie. (Galasiërs 5:22-23)
Wanneer jy mense oor die “vrug van die Gees” hoor praat, praat hulle oor hierdie eienskappe: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Jy kan aan die vrug van die Gees dink as ’n tros druiwe. Liefde, vreugde, vrede en al die ander eienskappe is afsonderlike druiwekorrels aan hierdie tros. Kom ons dink nou na oor hoekom God besluit het om hierdie eienskappe vrugte te noem.
Het jy al ooit die uitdrukking “Jy sal maai wat jy saai” gehoor? Het jy geweet dit kom uit die Bybel? In Galasiërs 6:7-9 sê God wat jy ook al plant, sal opkom. As jy waatlemoenpitte plant, sal daar waatlemoene opkom. Wanneer ons die Heilige Gees in ons lewe “plant”, sal ons liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing oes.
Om die Heilige Gees te plant, beteken ons laat Hom toe om ons te lei. Lees Galasiërs 5:16-17: “Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie. ’n Mens se sondige geaardheid wil dinge doen wat teen die Gees is, en die Gees wil dinge doen wat teen jou sondige geaardheid is, want hulle is mekaar se vyande. Julle kan dus nie sommer maar net alles doen wat julle wil nie.” As ons net alles doen waarvoor ons lus is, sal die Gees se vrug nie aan ons takke hang nie. Daar sal dinge soos haat, kommer, stres, selfsug en luiheid in ons lewe opkom. Vrugte soos hierdie is vrot vanaf die oomblik dat dit geplant word.
Terwyl ons in die volgende nege dae na die vrug van die Gees kyk, vra jou af: “Is dit iets wat in my lewe groei?” As die antwoord nee is, gaan soek dan met jou hele hart na daardie vrug.
Maak ’n lys van julle gunsteling vrugte. Neem julle voor om in die volgende nege dae meer vrugte te eet terwyl ons oor die nege eienskappe van die vrug van die Gees praat. Julle kan selfs ’n vreemde vrug wat julle nog nooit geëet het nie, koop. Kyk ’n bietjie wat julle kan kry.