Gedagte vir die dag: Vars vrugte: Geduld

 aartappel_plant_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Bybelblits: Lees Spreuke 25:15

Die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie. (Galasiërs 5:22-23)

Een aartappel kan óf vir een mens óf vir baie mense kos gee. Hoe kan jy ’n klomp mense met een aartappel kos gee? Jy moet dit plant, al verg dit nogal baie geduld. Eers moet jy die aartappel in stukke sny en dit ’n paar dae laat sleg word. Dan sit jy die stukke aartappel op ’n warm plek neer. Ná ’n week sal die stukke aartappel begin uitspruit of “ogies” vorm. Dan plant jy dit in ’n sloot wat jy grawe. Die aartappels sal oor ’n paar maande gereed wees om geoes te word. Een saadaartappel kan tot tien aartappels oplewer. As jy nou dadelik moet eet, sal een aartappel jou honger stil. Maar as jy genoeg tyd het, kan jy daardie aartappel plant en baie mense kos gee.

“Goeie dinge kom na dié wat daarop wag.” Dit is so waar – en dit geld nie net vir tuinmaak nie. Die meeste mense in die wêreld wil nie vir iets wag nie. As mense by ’n restaurant lank vir hulle kos moet wag, eis hulle sommer hulle geld terug. In plaas daarvan om te wag totdat hulle die kontant het om iets te koop, gebruik mense ’n kredietkaart sodat hulle dit dadelik kan kry.  Wanneer ons ongeduldig is, sê ons vir die wêreld ons verdien beter. Dit is eintlik ’n manier om te sê: “Ek is te belangrik om te wag.” En dan neem die lelike eienskap hoogmoed oor. Om te wag, is nie altyd so sleg nie. Dit bring dikwels vir ons méér, nie mínder nie.

My seun moes hierdie jaar ’n operasie ondergaan wat baie geld sou kos. Ons het nie die geld gehad nie en ons mediese fonds het nog nooit vir hierdie spesifieke operasie betaal nie. Ons was bekommerd, maar het besluit om te bid. Dit het baie geduld geverg, maar ’n maand later het ons ’n brief ontvang waarin die mediese fonds vir ons gesê het hulle het die betaling vir die operasie goedgekeur. In plaas daarvan om net vir ons die geld te gee, het God die rekening weggeneem. God doen groot dinge wanneer ons bid en geduldig wag.

Hartspraatjies: Kyk gerus saam na die fliek “Faith like Potatoes”. Dit is ’n verstommende ware verhaal oor geloof. Dit gaan ook oor baie geduld – en aartappels.

Bron: Die Eenjaar Ma en Dogter dagboek deur Dannah Gresh
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Agter die skerms..... ·

Faith like Potatoes – die beste fliek ooit – wat mens net vertel jy moet vertrou jy moet vertrou en net elke dag met ons God praat en net vir hom se ons vertrou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.