Gedagte vir die dag: Vars vrugte: Getrouheid

woestyn_voetspore_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Romeine 1:20-22

Die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie. (Galasiërs 5:22-23)

Ek en ’n groep studente van ’n Christelike hoërskool was ’n keer in New York om saam met mense te bid. Ek het so pas vir God gevra saam met wie ek moes bid toe ek ’n jong seun en sy meisie sien wat vir my effens ongelukkig gelyk het.

“Haai, julle,” het ek gesê. “My naam is Dannah. Is daar iets waarvoor ek vir julle kan bid? Ek wil graag vir julle bid.”

”Ek glo nie in God nie,” het die jong man gesê. “Hoekom glo jy in Hom? Jy kan Hom nie sien nie. Jy het geen bewyse dat Hy bestaan nie.”

Ek was nie voorbereid op sy antwoord nie. Die meeste mense is honger vir gebed wanneer ons met hulle begin praat. Hulle hou daarvan dat ons vir hulle wil bid. Hulle raak nie kwaad soos hierdie jong man nie. Ek het nie geweet wat om te sê nie, toe bid ek in stilte vir hulp. En feitlik sonder om te dink, het ek gevra: “Glo jy die wind bestaan?”

“Natuurlik,” het hy gesê. Toe ek hom vra hoekom, het hy geantwoord: “Want jy kan dit sien.”

“Nee, jy kan nie,” het ek gesê. “Jy kan nie die wind sien nie. Dit is onsigbaar. Maar jy kan sien wat die wind aanraak. Die bome buig en die blomme dans wanneer die wind daaraan raak. Ek kan God sien omdat ek die lewens sien wat Hy aanraak. Ek weet Hy bestaan regtig.”

Die seun se meisie het my gevra of ek vir hulle sou bid.

Dit verg geloof om op God te vertrou en Hom te dien. Om in God te glo, is amper soos om in die wind te glo. Selfs al kan jy nie regtig die wind sien nie, weet jy dit is daar en jy glo die wind bestaan.

Om getrou te wees, kan ook beteken om met jou hele hart te glo. Hoe het julle al God se werk in ander mense se lewe raakgesien – en in julle eie lewe?

Hartspraatjies: Gesels oor ’n keer toe julle gesien het hoe God iemand aangeraak en dit julle gehelp het om te glo Hy bestaan. Skryf vir daardie persoon ’n briefie waarin julle hom of haar aanmoedig omdat hy of sy vandag julle geloof versterk het

Bron: Die Eenjaar Ma en Dogter dagboek deur Dannah Gresh
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.