Lees Genesis 1:1-10
Die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie. (Galasiërs 5:22-23)
Die eerste paar dae waarin ons aarde geskep is, was nogal skouspelagtig. God het planete, die sonskyn, sebras en die rooipootelsie uitgedink. (Hulle bestaan regtig. Ek belowe.) God het ’n lewende wese, Adam, uit die heel kleinste atome gemaak. Toe het God gesê: “Wat Ek geskep het, is goed.”
Net “goed”? “Goed” klink dan na so ’n eentonige manier om die skepping van die ganse heelal te beskryf. Ek bedoel, macaroni-en-kaas is goed. Die wêreld en alles daarin is wonderlik of asemrowend of ongelooflik verstommend. Ek dink nie toe God gesê het dit is “goed” het Hy bedoel: “Wel, dis nogal oukei. Ek dink Ek kan hiermee saamleef” nie. Hy het elke enkele sel met groot sorg en noukeurigheid geskep. Ons wêreld was ’n volmaakte plek waar God en sy wesens die hele tyd saam kon wees, sonder enige misverstande of probleme tussen hulle. Dit was volkome goed. God het gesê: “Ek het my bes gedoen. Dit is goed.
Doen jy jou bes? Wanneer jy ’n skooltaak moet doen, stort jy jou hele hart daarin sodat dit “goed” sal wees? Wanneer jou ma of pa jou vra om jou kamer aan die kant te maak, spring jy in met die stofsuier en stoflap sodat jy op die ou end kan sê jy het jou taak “goed” gedoen?
Goed beteken “knap gedaan”.
Sit vandag tyd opsy om ’n paar dinge neer te skryf wat julle elkeen besonder goed doen en ’n paar dinge wat julle beter wil doen. Sommige van die dinge waaraan julle dink, sal reeds goed wees. Ander kan dinge wees wat julle regtig baie graag “goed” sou wou doen. Moedig julleself en mekaar aan en identifiseer elkeen een ding waaraan julle dadelik kan begin werk om dit op die ou end “goed” te doen.”
Hartspraatjies: Gebruik die lysies wat julle gemaak het en gesels ’n rukkie oor hoe julle in sekere fasette beter kan vaar. Moedig mekaar aan terwyl julle julle nuwe doelwitte probeer bereik.
More julle en dankie vir die pitkos