Gedagte vir die dag: Vars vrugte: Sagmoedigheid

 kat_hond_veld_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees 1 Petrus 3:14-16

Die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie. (Galasiërs 5:22-23)         

Het jy al ooit gesien hoe ’n peuter ’n kat “streel”? Gewoonlik klap hulle die kat meer as wat hulle hom streel. Dit irriteer die kat en laat hom vlug. As die kind sag aan die kat geraak het, sou die kat dalk daarvan gehou het. Maar omdat die peuter te hard aan die kat gevat het, het hy weggehardloop en die peuter het waarskynlik begin huil.

Sommige Christene vergeet om sagmoedig te wees wanneer hulle vir ander mense van Jesus vertel. Ek het gehoor van ’n meisie wat vir haar vriendin gesê het sy sal hel toe gaan as sy nie in Jesus glo nie. Sy kon die boodskap baie sagter oorgedra het. Dalk kon sy eers vir haar vertel het hoe sy Jesus se liefde vir haar ervaar, of aangebied het om vir haar te bid. Dit sou sagmoedige maniere gewees het om Jesus se liefde met haar vriendin te deel.

Sagmoedigheid beteken nie om swak of lafhartig te wees nie. Net omdat iemand sagmoedig is, beteken dit nie sy is nie sterk nie. God roep ons in werklikheid op om ons krag in die Here en in sy sterkte te soek (Ef. 6:10), selfs al word ons ook geroep om sagmoedig te wees.

Dit is belangrik om vir mense te vertel wat jy glo, en dit verg baie moed en krag. Maar jy moet dit met sagmoedigheid doen. “As dit gebeur dat julle swaarkry omdat julle doen wat reg is, sal God sy seën op julle laat rus. Moet dus nie dat mense julle bangmaak of afskrik nie. Inteendeel, erken in julle harte Christus as die een wat seggenskap het. As julle dit doen, en iemand vra julle uit oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer. Doen dit egter taktvol en eerbiedig” (1 Pet. 3:14-16).

Katte hou nie daarvan om rondgestamp te word nie; mense ook nie. Wees altyd vriendelik en behandel alle mense met respek en liefde. Dit sal baie meer doeltreffend werk om hulle na Christus toe te lei as wat jy op hulle skree of hulle bangmaak terwyl jy die waarheid in hulle harte probeer indwing.

Hartspraatjies: Gesels oor hoe julle die evangelie van Jesus op ’n sagmoedige maar eerlike manier kan oordra. Neem julle voor om sagmoedig te wees teenoor almal wat julle vandag ontmoet.

Bron: Die Eenjaar Ma en Dogter dagboek deur Dannah Gresh
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.