Gedagte vir die dag: Vars vrugte: Selfbeheersing

Ma_kind_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Galasiërs 5:22-23

‘n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter, ‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ‘n stad inneem. (Spreuke 16:32)

Het jy geweet dat kinders vandag baie minder selfbeheersing het as in die 1940’s? In daardie jare – baie, baie lank gelede – het ’n paar navorsers meisies van ongeveer sewe jaar oud gevra om so lank moontlik stil te staan. Feitlik almal kon so lank stilstaan as wat die navorsers wou hê hulle moes. Maar toe hulle vyfjariges vra om stil te staan, kon hulle omtrent net drie minute stilstaan. Onlangs het navorsers hierdie eksperiment herhaal. En raai wat? Die sewejariges kon net ongeveer drie minute stilstaan, soos die vyfjariges van die verlede. Vandag se sewejariges het nie soveel selfbeheersing soos kinders van hulle ouderdom vroeër gehad het nie. Dit is nie goed nie.

Selfbeheersing help ons ons lewe lank. Toe ek op laerskool was, het  selfbeheersing my gehelp om nie in toetse te kul nie. Toe ek op hoërskool was, het selfbeheersing my gehelp om nie na wilde partytjies toe te gaan nie. Toe ek gaan studeer het, het selfbeheersing my gehelp om nie met te veel ouens uit te gaan nie. Vandag help selfbeheersing my om ’n goeie ma en vrou te wees.

Jy kan vandag begin oefen om selfbeheersing te hê. Jy kan stilsit en wag vir jou ma wanneer sy lank in ’n winkel is. Jy kan tot ná aandete wag om daardie koekies te eet. Hierdie geleenthede help jou selfbeheersing-“spier” om sterk te word en groter dinge wat oor jou pad kom te hanteer.

Mense wat swig voor elke liewe begeerte is nie sterk nie. As daar ’n bord koekies op my lessenaar staan en ek eet alles op, is dit ’n swakheid. ’n Meisie wat die vermoë het om nee te sê, is sterk. Daar is baie krag in die woordjie nee. Wanneer jy nee sê vir ’n begeerte wat nie God se beste vir jou is nie, sê jy jy gaan nie swig nie omdat jy weet God beplan iets beters vir jou.

Hartspraatjies: Dogter, hier is iets prettigs om te doen. Terwyl jou ma aandete maak, vra haar om te kyk hoe lank jy kan stilstaan. Ma, vertel vir jou dogter van een faset in haar lewe waar sy sterk is omdat sy selfbeheersing het. Gesels daaroor en sê saam vir God dankie dat Hy haar help om haar selfbeheersing-“spier” te ontwikkel.

Bron: Die Eenjaar Ma en Dogter dagboek deur Dannah Gresh
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae